Man beland self in hospitaal toe hy ‘beseerde voetganger’ wou help

Elinda Bosker en Bruce Marsh. Foto: Facebook

Elinda Bosker en Bruce Marsh. Foto: Facebook

ʼn Pretorianer het ernstige beserings opgedoen nadat hy probeer het om ʼn “beseerde voetganger” te help wat in ʼn straat in Rietfontein gelê het.

Bruce Marsh (27) is Sondag omstreeks 23:00 erg deur vier mans aangerand. Elinda Bosker (25), Marsh se verloofde, het aan Maroela Media gesê Marsh het op pad huis toe iets in 20ste Laan in die pad sien lê.

“Hy het eers gedink dit is ʼn kind en het dadelik stilgehou en nader gehardloop,” het Bosker gesê. Die volgende oomblik het die man in die pad opgespring en Marsh met ʼn mes aangeval. Drie ander mans het uit die bosse gehardloop gekom en Marsh begin aanrand.

“Hy het die mes gekeer en gelukkig net ʼn vlak sny op sy arm gekry, maar die ander het hom geslaan, geskop, sy gesig in die teer gedruk en op hom gespring,” het Bosker gesê. Hulle het probeer om die motorsleutels by Marsh af te neem, maar hy het verbete daaraan vasgeklou.

“Die volgende oomblik het ʼn polisiemotor daar naby verbygery en die ligte het oor hulle geflits. Die polisie het nie die aanval gesien nie, maar die aanvallers het hulle gesien en laat spaander,” het Bosker gesê. Marsh kon daarin slaag om tot by sy huis te ry, waar hy sy verloofde gebel het om hom hospitaal toe te neem.

“Twee van sy ribbes is gebreek, sy elmboog is gekraak, sy bekkenbeen het heeltemal geskuif en hy het verskeie kneusplekke op sy lyf,” het Bosker gesê. Marsh is aanvanklik in die Steve Biko Akademiese Hospitaal opgeneem, maar is Maandag weer ontslaan aangesien hulle nie vir hom ʼn bed gehad het nie. Hy sal Donderdag weer opgeneem en geopereer word.

“Hy is nou hier by my ouers se huis waar ons hom kan versorg,” het Bosker gesê. “Hy het verskriklik baie pyn. Hulle het vir hom pynmedikasie gegee, maar dit is baie flou. Hy het baie seer.”

Volgens Bosker is Marsh baie wantrouig ná die voorval. “Hy sal nooit weer stilhou om iemand te help nie. Hy het net gesê, ʼn mens kan deesdae nie meer iemand probeer help nie. Jy weet nooit of jy hulle kan vertrou nie.”

ʼn Saak van aanranding is by die polisie aanhangig gemaak, het Bosker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pendoring ·

Ek het ‘n soortgelyke ding op die Mabopane snelweg oorgekom. Die knaap het ook dwars in die pad gelê. Ek het nie gerem nie maar slegs stadig oorbeweeg. Hy het gedog ek gaan bo-oor hom ry. Toe ek so ±50m weg was begeef sy moed hom en hy spring op en hardloop kant toe. Ek het eers ‘n paar sekondes later besef wat einlik aangegaan het, maar toe is ek gelukkig reeds verby.

Mamma ·

Ek kan nie glo mense doen die dinge net om aandag te trek en mense ernstig te beseer nie. Waar gaan die lewe heen?

Paul ·

Dit was nie “net om aandag te trek en mense ernstig te beseer” nie. Lees wat daar staan. Hulle wou die man se motor steel, maar hy het die sleutels so styf vasgeklou dat hulle nie kon nie.

Peet Schabort ·

Dit was middernag (begin 2000’s) net voor Kersfees toe ek, my vrou, seun en sy vriendin naby Heidelberg ‘n swart man OP ‘N RYSTOEL met ‘n gevaardriehoek in die pad sien sit agter ‘n bakkie teen die opdraande naby die Hoffeldt restourant. Nadat ons die nodige voorsorgmaatreëls getref het (julle behoort te weet wat ek bedoel) het ons met hoofligte aan agter die bakkie stilgehou. Inderdaad was hy verlam en het agter in die bakkie gelê terwyl sy maat bestuur het. Die voertuig se alternator het ‘n los draad gehad en met pap battery het hulle gaan staan.
Op my vraag waarom hy verlam is was sy antwoord: “Net soos julle by my stilgehou het so het ook ek iemand probeer help min wetende dat die voertuig gesteel was. Die eienaar het op ons afgekom en blindelings begin skiet waar ek in my rug getref is en die koeël nog steeds daar sit.”
Dus, wees uiters versigtig maar wanneer jy alleen is MOENIE STILHOU !!! Al sit die man in ‘n rystoel !!!

Bruno Stef ·

As n reel ry ek nie na donker nie maar mense moet ook maar oplet vir op en afritte asook voetganger oorbrue en as jy dan moet ry behou telefoon kontak ten alle tye met jou mense veral die ouer mense wat nog mobiel is.

Christie Joubert ·

Ek is laaaankal klaar met skuldig voel omdat ek nie stop nie. Vir niemand nie. Blou, geel, wit, rooi, swart, ek gee nie om nie. Hierdie berig bevestig maar net weer eens vir my dat jy deesdae niemand kan vertrou nie.

Barry ·

Ek hou ook nie meer stil nie, want of hulle bedel petrol geld of hulle rand jou aan. Selfone maak dit moontlik dat ons nie meer hoef stil te hou nie. My eie lewe is meer belangrik as ‘n vreemdeling s’n.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.