Man beroof toe hy kospakkies aflewer

(Foto: pixabay)

ʼn Inwoner van Centurion is Sondag vier uur lank met ʼn vuurwapen by ʼn huis in Danville aangehou, waar hy kospakkies afgelaai het. In dié tyd sê die man hy is gedwing om kaal in ʼn kamer te wag terwyl al die geld uit sy bankrekening onttrek word.

Die man het ʼn welsynsorganisasie gehelp met die verspreiding van kospakkies aan behoeftige gesinne in die Pretoria-omgewing.

Hy het aan Maroela Media vertel dat hy vroeg Sondag ʼn oproep van ʼn vrou ontvang het wat wou weet of hy vir haar kospakkies by ʼn adres in Danville in die weste van Pretoria kon aflewer.

Die vrou het kort daarna laat weet dat sy hom in die parkeerterrein van ʼn winkelkompleks in Danville sal ontmoet. Toe sy per voet opdaag, het sy gevra of hy die kos by haar huis daar naby kon aflaai.

“Toe ek die laaste kospakkie in die sitkamer neersit, het sy die veiligheidshek agter my gesluit en in een van die vertrekke verdwyn. Vyf mans het op daardie oomblik uit ʼn ander vertrek te voorskyn gekom en ʼn pistool op my gerig,” vertel die 62-jarige man wat vir sy eie veiligheid nie sy naam genoem wil hê nie.

Hy sê die groep het hom in ʼn slaapkamer gedwing om al sy klere uit te trek waarna hulle foto’s van hom geneem het. Hulle het ook aanhoudend gedreig om hom dood te maak as hy nie die regte pinkode vir sy bankrekenings verskaf nie.

Toe die mans nie daarin kon slaag om die geld elektronies uit sy bankrekening oor te plaas nie, het een van hulle gery en die geld by verskillende kitsbanke in die Sunnyside-omgewing onttrek.

“Ek kon hoor hoe die onttrekkings op my selfoon registreer,” sê die man wat steeds geskok is oor wat met hom gebeur het.

selfoon-pexels

Foto: Pexels.com

Hy sê sy foon is deur die groep se leier gebruik om deurentyd met iemand in Frans te kommunikeer, vermoedelik die persoon wat van die een kitsbank na die ander gery het om die onttrekkings te doen.

Terwyl hulle met die transaksies besig was, het hulle hul slagoffer ook gedwing om dagga te rook. Hy sê dit het hom bedwelm, want van die gebeure is steeds vir hom in ʼn waas gehul.

Toe die laaste sent (ongeveer R18 000) onttrek is, het die groep hom beveel om sy klere aan te trek en op die agterste sitplek van sy eie voertuig te lê. Daarna het hulle vir ʼn ruk met hom rondgery.

Hy sê dit het soos ure gevoel, maar was waarskynlik nie langer as 10 minute nie. ʼn Tweede voertuig het in ʼn stadium langs hulle stilgehou en die mans het toe uitgespring en weggery en hom net daar gelos.

Hulle is met sy bankkaarte en ID weg, maar het sy selfoon, wat hulle die hele tyd gebruik het, agtergelaat.

Maroela Media het die lys van oproepe en die nommer waarheen dit gemaak is onder oë gehad. Die nommer is laat gisteraand deur ʼn vrou beantwoord, maar sy het die oproep gou beëindig.

Die saak is by die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion aangegee en word Dinsdag na die Pretoria-Wes-tak oorgeplaas. Maroela Media het ʼn boodskap gesien waarin die polisie bevestig dat hulle die saak ondersoek.

“Ek hoop maar die selfoonrekords sal die polisie help om die boewe aan te keer,” sê die slagoffer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JohanR ·

Ook maar lekker dik stupid! ‘n Kenner sal gou deur die selfoon oprope hierdie mense opspoor….ook maar lekker dik stupid! R18000 uitgetrek. Ek kan net elke dag R2000 uit my rekeninge uittrek dan se hy NEIN nie meer vandag nie, probeer weer more!

koos10 ·

Johan, stop die lorrie, is dit nou die slagoffer se skuld?
Hy wou help (in my opinie nie baie slim nie) en geglo hy doen reg.
Miskien moet ons maar doen soos die regering gevra het en dit is om kospakkies by hulle af te laai, want sien, die regering gaan nou hierdie voorval gebruik om hulle “plan” te regverdig! MAAR nog beter is om te gee vir wie jy ken!
Dan wil ek net by Min. Cele hoor of drank dan nou hier ook ‘n rol gespeel het?

Sarel ·

Dit is nou laer as slangsleepsel.in die Sahara Woestyn en Johan , maklik om te vertel dat iemand is ” Stupid”. So leer mense.

Jacobus ·

Nog ‘n ding wat nie onder grendel is nie is opportunistiese misdaad. Mr Cele het hulle lekker woema gegee.

Pieter ·

Dit verbaas my nie. Het dit self al meegemaak, maar gelukkig was ek meester van die situasie. Sulke gebeure kom ook in Victor Hugo se Les Miserables voor. Nou gee ek slegs aandag aan diere in nood.

Pampoen ·

Iets klink nie reg aan die storie nie. Hy kan die huis uitwys en die nommers op die foon … en hoekom moes hy sy klere uittrek?

Ancois ·

Pampoen, wat verstaan jy nie?
Hy was by die vrou se huis nadat sy hom gevra het om die kospakkie na haar huis te neem (dis hoe hy weet waar die vrou woon)
Die mans wat sy geld ontrek het, het sy selfoon gebruik om n oproep te maak (dis hoe hul die nommer kon trace)
Hy moes kaal uit trek sodat hy nie kan weg hardloop nie.

katerinadiekat ·

Ek het nie geweet daar is Frans sprekende mense in Danville nie? Something wrong with this picture.

Snowball ·

Kongolese praat ook Frans. Sommer hordes van hulle is karwagte hier in Gauteng.

Anel ·

Moet ook nie die Nigeriërs weg gooi nie. Hulle praat ook Frans. Baie van noord Afrika praat Frans.

Sandra ·

Dit was sekerlik immigrante uit Franssprekende Afrikalande.

Niklaas ·

Dis maar nie lekker om te hoor van roof op barmhartige samaritane nie . Maar gewetenloses steur hul aan min.

Ancois ·

My ondervinding is dalk nie naastenby so ernstig nie maar dink dis een van die misdaad probleme wat nou vir ons voorlê in die toekoms..nou meer as ooit…het vanmiddag net gou vir n bejaarde tannie n bord kos gevat en n geldjie toe ek vasgedruk word en die man die geld afvat..nie die kos nie, maar die geld…die ou tante se huis is letterlik 5 huise van myne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.