Man bewusteloos in motor langs pad gevind

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Man wie se motor Donderdag in Kaapstad vermoedelik onklaar geraak het, is later deur polisiebeamptes bewusteloos in die motor gevind.

Werner Vermaak, kommunikasiebestuurder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 15:00 na die toneel in Plumstead ontbied. Daar het hulle ʼn man, vermoedelik 68 jaar oud, bewusteloos in sy motor gevind. Polisiebeamptes was ook reeds op die toneel.

“Iemand het glo die polisie gebel oor ʼn verdagte voertuig wat langs die pad gestaan het. Sy het aan die polisie gesê die voertuig het al langer as drie uur daar gestaan. Toe die polisie gaan ondersoek instel het, het hulle op die bewustelose man afgekom en ER24 ontbied,” het Vermaak gesê.

Daar word vermoed dat die man se motor onklaar geraak en dat hy langs die pad vir hulp gewag het. “Hy was erg gedehidreer en het verskillende tekens en simptome van sonsteek getoon,” het hy gesê. “Terwyl paramedici besig was om hom te stabiliseer, het sy toestand verder verswak en hy moes op lewensondersteuningsmasjiene geplaas word. Hy is na ʼn hospitaal gehaas vir verdere sorg.”

Vermaak het gesê paramedici moes ook Woensdag ʼn 23-jarige krieketspeler vir hittekrampe behandel en na ʼn hospitaal neem. “Ons wil mense waarsku om versigtig te wees, aangesien erge hitte-uitputting en sonsteek lewensgevaarlik kan wees,” het hy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op mense om baie water te drink, uit direkte sonlig te bly, gepaste klere te dra en sonskerm aan te sit, asook seker te maak dat troeteldiere ʼn koel plek het om te ontspan en koel, skoon water het om te drink. Hou ʼn oog op babas, kinders en bejaardes en moenie kinders of troeteldiere in ʼn motor los nie, selfs al is ʼn venster oop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

lw ·

3 ure is lank om te wag vir hulp vir onklaar voertuig. Ai ek hoop die bejaarde raak gesond.

E.K. ·

Mense, hou maar ALTYD ‘n bottel water en miskien ‘n energie stafie in die motor! Dit kan jou dalk net uithelp in noodtoestande. Ek hoop maar die arme man sal volkome herstel.

SkarrelKind ·

Dis hartseer dat iemand ‘n bejaarde so lank gelos het voor hulle opgedaag het – as dit dan nou is wat gebeur het. Wat as dit my ma of pa was? Shame, hoop hy is OK.

Estelle ·

Dit is nou wat gebeur wanneer n mens se motor gaan staan en jy kan dit nie waag om n venster oop te maak of uit te klim nie of hulp te vra vir ander motoriste nie want dan word jy dalk aangeval. Dit is darem skokkend hoe lank hierdie man al gewag het vir hulp om op te daag. Sterkte, ek hoop hy word gou beter.

ekke ·

My motor het n rukkie terug op die N1 buite Bloemdontein gebreek. Ek was nogal bekommerd want vrou alleen langs die pad is nie wat men’s wil he nie, maar kort voor lank was 2 lede van die SAP daar hulle het my gehelp en in die omtrek gebly totdat die insleep voertuig opgedaag het. Ek was baie dankbaar aarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.