Man bieg hy gooi hond se karkas in straat

‘n Skermskoot uit die video wat op sosiale media versprei word.

Die man wat op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgevang is toe hy ʼn hond se karkas in ʼn straat in Kensington in Johannesburg gestort het, het aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) erken dat hy dit gedoen het.

Jaco Pieterse, algemene bestuurder van die DBV se Sandton-tak, het gesê die man wat in die video gesien kan word, is die hoof van litigasie by ʼn toonaangewende regsfirma in Sandton.

Maroela Media het vroeër berig die beeldmateriaal is wyd op sosiale media versprei waarop gesien kan word hoe die man in ʼn stil straat stilhou, eers rondkyk of iemand hom sien, dan die karkas van ʼn hond in die straat gooi, vinnig in sy motor klim en wegry.

Nadat die beeldmateriaal aan die lig gekom het, het die DBV dadelik werk daarvan gemaak om die persoon in die video op te spoor. Inspekteurs van die Sandton DBV het die man Donderdag by sy kantoor besoek om hom oor die voorval uit te vra. Die man was egter nie by die kantoor nie omdat hy glo ʼn begrafnis in die Noord-Kaap bywoon.

“Tydens ʼn telekonferensie wat by die regskantoor gehou is, het [die man] erken dat hy die karkas van sy gesin se hond in die straat gestort het. Hy het ingestem om volgende week met sy terugkeer na Johannesburg met inspekteurs van die DBV te vergader,” het Pieterse gesê.

Intussen het die man se werkgewer hom glo van die voorval gedistansieer. Pieterse sê die DBV het ʼn kort verklaring van die hoof van sakeontwikkeling by die maatskappy ontvang, waarin daar bevestig is dat die maatskappy kennis dra van die voorval.

“Ons het die saak met die betrokke persoon bespreek en is tevrede dat dit ʼn persoonlike aangeleentheid is waarby die firma nie betrokke is nie,” lui die verklaring. “Ons verneem die persoon gee sy volle samewerking aan die DBV.”

Pieterse het gesê die Sandton DBV is tans in die proses om ʼn strafregtelike aanklag van onwettige storting in oortreding van die Stad Johannesburg se munisipale regulasies teen die regsman aanhangig te maak.

“Hierdie gebrek aan respek vir ʼn dier, selfs een wat dood is, en die gebrek aan respek vir wetgewing, veral van iemand wat veronderstel is om die wet te handhaaf, het ons sprakeloos gelaat,” het Pieterse gesê.

*Die naam van die betrokke persoon en regsfirma word ingevolge ʼn redaksionele besluit weerhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Speedguard ·

Vervolg vir wat?? Rommel strooi!!! Ek het ook al ‘n hond geskuif wat raak gery was so maak dit my skuldig aan WAT ? Vra ek, Het jy al ‘n karkas na die DBV gevat, doen dit gerus en beleef die onaangenaamheid met al die vra en alles wat daarmee gepaart gaan, ek stem dat indien dit sy dier was hy beter kon optree maar moet nie net afleidings maak nie !

Out of Line ·

Janee Speedguard geen wonder die SPCA het hulle hande vol nie .. HY het nie die hond raakgery en geskuif nie, hy het die hond van die HUIS AF GEBRING en kom dump. Duidelik ken jy nie munisipale regulasies nie .. lyk my jy moet ook dopgehou word. Ons maak nie afleidings nie .. ons SIEN ALLES OP VIDEO . dit is die lekker ding van KAMERAS …

Sê Net ·

“…en die gebrek aan respek vir wetgewing…” – dit is die grootste probleem van ons land. As daar nou gekyk word na mense wat met opset verkeersreels ens blatant ignoreer…. maar dit mag mos maar so wees …

Annie ·

Gedink hy is ‘n Prokureur en hy gaan wegkom so bly hy is gevang. Dis absoluut gewetenloos en laag en gemeen wat hy gedoen het. Hoop hy ry aan die pen die skurk!!!!!

Regverdig ·

Janee as die regsmanne al die wette so DISRESPEKTEER dan het ek nie meer hoop vir die land nie. Gerespekteerde regsfirma, gerespekteerde regsman .. en dit is wat hy doen? Dit is hoekom die regsbank ook tans lyk soos hy lyk. GEBREK AAN RESPEK en REGVERDIGHEID oral!

Eish ·

Née a, hoof van litigasie!
Kroekende kroekereur!
As jul nie in die klein dingetjies getrou is nie, hoe sal jul in die groot sake getrou wees?
Litigas hom!
Wat word van ons mense?

Anti DBV ·

Dis goed dat die man aanspreeklikheid aanvaar vir sy optreede. Binne twee dae het die DBV baie tyd spandeer om een saak van “onwettige storting” aanhandig te maak. Hierdie tyd kon baie beter benut gewees het in ander gebiede soos nedersettings waar diere daagliks mishandel en wanvoed word. Hierdie diere lewe nog en kort die DBV se aandag maar die BDV hou hulle besig met “onwettige storings” klagtes. DBV moet ophou sensasie soek en hulle tyd reg spandeer om by diere wat regtig hulp nodig het ‘n verskil te maak.

Mel ·

Die DBV kan nie geld maak in nedersettings nie, maar wel in hierdie geval…op die end vd dag gaan als oor geld eers en dan oor die liefde vd saak

Nettie ·

@Anti DBV – het jy al ooit tien minute op jou naaste DBV se perseel spandeer om te sien hoeveel weggegooide honde en katte daar is wat gevoed, gehuisves, versorg en mediese aandag moet kry?

Het jy al ooit saam met ‘n DBV-inspekteur gegaan op inspeksieveldtogte of met die opvolg van ‘n klagte en gehoor/gesien hoe hulle gedreig en beledig word dikwels waar hulle die wet wil neerlê?

Het jy al ooit aangebied om te help tydens ‘n DBV-“steri-drive” waar 100’e diere gereeld gesteriliseer word om die talle werpsels van honde en katte hok te slaan? Het jy al ooit bygestaan wanneer ‘n DBV-inspekteur ‘n hond wat aan repe verskeur is tydens ‘n honde-geveg moes uitsit?

Kom ek waarborg jou jou antwoord sal “nee” wees op elkeen van dié vrae. Kom ek vertel jou dat DÍT is hoekom die NDBV ons ondersteuning en nie kritiek nodig het nie. Want DÍT is hulle allerdaagse lewe en werk.

Johan. H. ·

Julle is nou regtig bietjie hard op die prokerower. Probeer ook maar spaar soos die res van ons, Weet julle wat dit sou kos om honde lykie by die vet te kry..? Rus in vrede hondjie!

Neewat ·

As hoof van die litigasie afdeling van sy firma behoort hy GENOEG GELDJIES te he om die hondjie te laat veras of by die SPCA in te gee.

Johan ·

Vir my die ergste is : dit was die gesin se hond. Is dit die respek wat hy het teenoor diere – gooi jou eie hond se karkas sommer in die straat? Woorde ontbreek – ek skud my kop in ongeloof. Wonder hoe het hy die hond hanteer terwyl die hond gelewe het?

Waarskynlik itv afstand naby aan die Sandton DBV.

Lizelda ·

Dankie Johan ek stem saam met jou. Wonder of die man se hond eers gely het voor hy dood is of wat is die eintlike oorsaak vd hond se dood.

RN ·

Miskien moet die DBV die polisie vervang. Kyk hoe vinnig spoor hulle iemand op.

Dellie ·

Siek Siek Siek, wonder hoe die hond dood is???????????? Seker gelei……as hy sommer net so weggegooi word kan ek net dink wat die huislike omstandighede vir daai arme dier was….

honourable member ·

Hierdie tipe mense moet vir n ruk as straf by die DBV gaan werk sodat hulle kan sien hoe word diere verniel en wat se goeie werk hierdie DBV mense doen om diere te help. Hopelik sal dit sulke mense tot ander insigte bring.

Nettie ·

@honourable member – ek stem 1000% saam met jou.

Ons howe is eintlik ‘n lagwekkende instelling met die ligte strawwe wat oortreders van dierewelsynsake aanbetref. Dikwels kom mense weg met net ‘n vegie oor die vingers of ‘n boete.

Ek sê mense moet gedwing word om daai boete te betaal: aan die DBV en dan moet daar gemeenskapsdiens ook afgedwing word – mense moet gedwing word om by die naaste DBV hul dienste te lewer, veral om honde-hokke skoon te maak en die diere te voed (onder toesig, natuurlik!).

Menslikheid en beskaafdheid ·

Hierdie man se onmenslike en onsensitiewe gedrag is ontstellend in vele opsigte. Ek hoop hy behandel sy eie (en ander) mense beter en op ‘n meer beskaafde wyse.

Ek is seker as hy by enige huis in die straat geklop het en gevra het dat die inwoners op ‘n waardige wyse die hond se liggaam asseblief namens hom kan begrawe sou hulle dit met graagte gedoen het. In my straat sou ek en my bure dit met graagte gedoen het eerder as hom dood daar te sien lê asof hy nooit in sy lewe stertswaaiend liefde getoon het nie.

Geskok ·

Naam weerhou? Tog word die man se naam genoem op die SPCA Sandton se FaceBook. Ek se – “name and shame” hom. Dis skokkend!!!!!

Oujongvrou ·

Ek hoop nie die man het kinders nie. Wat se voorbeeld is hy?????

Peet Schabort ·

Al my honde is PERSOONLIK deur my begrawe. Wanneer jy in daardie hond se gesig kyk en die liefde teenoor jou sien uitstraal dan kan jy nie anders.

HP ·

Selfde hier. Hulle is kinners. En voorwaarde vir my kinders dat hulle eers verantwoordelikheid aanvaar van dier in lewe en bereid is om die dier te begrawe voor hulle een kry.

fm ·

Wonderlik Peet Schabort en HP. Ek het net die grootste respek en agting vir mense soos julle en vir die DBV. Dankie. Die DBV lewer nie vanuit ‘n gemaklike leuenstoel kommentaar nie, maar is 24 uur daar vir die diere in nood wat nie kan praat nie. Dit is die regte ding om hulle te ondersteun. Daardie hond was eens pragtig en lewendig en vol energie. My magtig begrawe hom na sy afsterwe!!! Of laat iemand anders dit vir jou doen. Vra net. Baie mense sal dit vir jou doen sonder om enige sent te spandeer.

Zettie ·

Ek wonder net watse skok dit vir die man se vrou en kinders moes wees om te sien hoe daar van hul troeteldier se lyk ontslae geraak word. Was daar net geen liefde nie? Hoe is die hond dood? As hy siek was, hoe was daar na hom omgesien om hom te probeer gesond maak of sy lyding te beëindig? Al die vrae kom nou tot mens se gedagtes wat weer onnodige kwade gevoelens versoorsaak teen die persoon. Goed so aan die SPCA.
Hoekom nie die saak verder neem as die persoon bekend is aan hulle nie? Daar is soveel dooie diere waarvan oortreders nie tot boek gebring kan word nie omdat hulle identiteit nie bekend is nie. R I V woefkind. Hoop jy het ‘n goeie lewe gehad.

Boetman ·

Hoe ironies – hy gaan gooi die dooie gesinshond in ‘n sloot langs die straat en ry ‘n paar dae later honderde kilometers om ‘n familie begrafnis by te woon.
Ek wonder of die familielid begrawe gaan word of sommer in ‘n sloot iewers gaan opeindig.

kallie ·

So’n warboel emosies het deur my gegaan toe ek hierdie sien: woede vir die man wat so optree,jammerte,empatie vir die stomme dier wat net daar “gedump” word. In die straat deur ‘n opgevoede mens!En dan laaste,skaamte,skaamte dat die wêreld sien wat die mens doen.

Johanna ·

My hart is vol trane vir die arme dier al is hy nie meer lewend nie. ek wonder waaraan het die dier omgekom. en ek wonder hoe was die dier behandel toe hy nog lewend was. duidelik het die dier net mooi niks vir hierdie persoon beteken nie. hoe hartseer. hoe verskriklik hartseer. woef kind rus in vrede.

Nettie ·

Lieven loven, Maroela Media, verwyder net asb. “Speedguard” se kommentare hierbo – dit is aanstootlik!

Natan ·

Verassing van ‘n troeteldier is ook ‘n opsie, kos ‘n paar rand, maar ja wat is laaste respek betoon teen jou dierevriend teenoor die geld. Met die voertuig wat hy ry en posisie wat hy beklee kan hy dit bekostig. Al my diere word waardig begrawe met grafsteen en al. Beloning vir hul liefde, getrouheid, slangevang, oppas van eiendom, beeste en skape aanjaag en vele meer. Hoe jy jou diere behandel is ‘n refleksie van jou eie morele toestand soos Ghandi gesê het.

Gesiggie ·

Hierdie hond het jou opgepas, vir jou soveel liefde gegee, en jy gooi hom soos n gemors langs die straat, kon jy nie teminste net n gat iewers gaan grou, was die hond dan net n stuk gemors vir jou…jy moet gestraf word… jy is duidelik nie n diere liefhebber.. ek hoop iemand het die hond darem begrawe. RIP OU BRAKKE

Oopkop ·

Ek stem dat die man plan moes sien om sy hond te laat veras. Mens mag mos deesdae nie jou diere in jou tuin begrawe nie. Ek het nie tyd vir die SPCA nie, het voorheen baie geld aan hulle geskenk. My honde was vergiftig deur diewe en ek het hulle deurgehaal. Die een hond se naam was Slim omdat hy fyn gebou was en maer was. Hy kon nie weer gewig optel nie daarna nie, hoewel my ander 2 honde vet was. Ek is aangekla van diere mishandeling en my dierbare hom is verwyder sonder my toestemming en uitgesit.Afdrukke geneem. Vier keer in die hof, baie stress en R10 000 vir verdediging. Saak n jaar gesloer. Onskuldig bevind, my wittebrood opgevoeter. Criminal check wys die saak op my rekord. Ek moet elke keer verduidelik hoekom dit wys. Ek mis Slim steeds. Hy was so lief vir my en ek vir hom. Shady sy broer is weer daarna vergiftig en hy het my met die poot gegroet voor ek hom moes laat uitsit. Mis hulle blou oe. Slim en Shady rus in vrede

Tammy ·

Die gebrek aan respek vir wetgewing deur n man wat by n regsfirma werk is skokkend verby. Watter tipe mense werk dan by sulke firmas? Dis teleurstellen dat sy werkgewer hom kamtig distansieer in plaas van dissiplineer en n voorbeeld uitstuur wat vir die gemeenskap aanvaarbaar sou wees. Ek dink regtig die regsfirma waar hy werksaam is behoort dienooreenkomstig op te tree. My werknemers kan nie my maatskappy in onguns bring in die publiek nie, hulle word dissipliner verhoor.

Wilma ·

Ek sou pap eet maar my dierbare hondekinders is veras. Soveel liefde van hul ontvang. Hul verdien om goed versorg te word.

ANTOINETTE ·

Gesinshond?Ek word naar.Land se beskaafdheid word gereken op hoe jy jou oumense en diere behandel.In lewe en dood.Skande.Name him and shame him!

Riana ·

Wonder wat het hy vir sy gesin vertel waar gaan hy met die hondelykie heen? Kan nie dink hy sê vir sy kinders hy gaan die hond net in die volgende straat weggooi nie…. ai nee

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.