Man blind ná gru-ongeluk: ‘Ons lewe het handomkeer verander’

JW Stemmet voor die ongeluk. (Foto: Verskaf)

’n Familie van Wolmaransstad in Noordwes se lewe het in Augustus 2017 handomkeer verander toe hul pa, seun en man (29) ’n breinbesering tydens ’n motorongeluk opgedoen en gevolglik blind gelaat is.

Nou wil hulle dié traumatiese ervaring gebruik om bewusmaking oor breinbeserings te skep en vir ander in soortgelyke posisies hoop te gee.

JW Stemmet, ’n plaasbestuurder van die distrik, was op 5 Augustus 2017 in ’n ernstige motorongeluk betrokke toe hy op pad was na sy vrou, Alice (26), en hul twee kinders, onderskeidelik agt en twee jaar oud.

Stemmet se bakkie het omgeslaan en hy is sowat 17 m uit die bakkie in die lug in geslinger voordat hy langs die pad te lande gekom het.

Volgens Alice is dit steeds onduidelik wat presies op dié dag gebeur het. “Hy het langs die pad gelê en vriende van ons het deur die Here se genade op hom afgekom.” Sy sê ’n ambulans op pad na ’n ander noodgeval het toevallig verby die ongelukstoneel gery en kon vir Stemmet onmiddellik na die naaste hospitaal haas.

Oupa Johan Stemmet, JW Stemmet, Wilhelm Stemmet en pa Wimpie Stemmet. Vier generasies by mekaar voor die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Stemmet is met ’n ernstige breinbesering in die plaaslike staatshospitaal opgeneem waarna hy noodgedwonge na ’n privaat hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas moes word. “Sy hart het gaan staan en daar het bloed by sy neus en ore uitgeloop. Toe ek by hom kom, was hy grys van kleur weens al die bloed wat hy verloor het,” vertel Alice.

“Ons het net gebid en gepleit dat God hom vir ons moet spaar.”

Stemmet is vir vyf weke ná die gru-ongeluk in die hospitaal behandel. “Daar was in ’n stadium omtrent 30 druptoestelle aan hom gekoppel en hy moes ’n operasie ondergaan om die bloed op sy brein te dreineer,” sê Alice.

Daarna het nóg drie maande lange rehabilitasie in Bloemfontein voorgelê waartydens hy van voor af moes leer loop, eet en kommunikeer.

Ná ʼn lang en uitmergelende herstelproses is Stemmet uiteindelik huis toe waar hy nou deur sy familie versorg word.

Alice erken dat dit ’n groot aanpassing was van die lewe wat hulle voorheen geken het, maar sê die familie het baie hulp van die rehabilitasiesentrum en ʼn arbeidsterapeut gekry wat hulle presies geleer het wat om te doen. “Hulle het die fondament vir ons gelê. Verder leer mens maar soos jy aangaan. JW lei ons ook in wat hy nodig het. Bowenal lei die Here jou. Jy besef hoe afhanklik jy van Hom is,” sê Alice.

Sy sê hul familie woon saam in een huis en almal sit hand by met Stemmet se versorging. “Dis ’n absolute spanpoging.”

Daar is ook ʼn versorger wat help om in Stemmet se behoeftes te voorsien. “JW se ma en versorger is wonderlik en doen al die harde werk,” sê Alice.

JW en Alice Stemmet na die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Alice sê dat sy deur hierdie voorval besef het daar word gans te min gedoen om mense bewus te maak van en meer te leer oor breinbeserings. “Daar is te min inligting beskikbaar. Ons het nooit gedink dat dit met ons sou gebeur nie. Nooit het my skoonouers gedink dit gaan met hul seun gebeur nie. Nooit het ek gedink dit gaan met my gesonde man gebeur nie,” sê sy.

“Só ’n besering verander ’n mens se lewe handomkeer. ’n Breinbesering is ’n ongelooflik traumatiese ervaring vir enige familie. Gelukkig het ons ’n baie goeie ondersteuningstelsel,” sê sy.

Die familie beplan om vanjaar nog by ’n neuroloog aan te klop nadat Stemmet vir die eerste keer vroeg vanjaar ’n toeval gekry het. “Andersins is sy vordering merkwaardig. Hy gaan normaal aan, maar kan ongelukkig nie sien nie en dit is wat hom terughou. Hy kan wel al tussen lig en donker onderskei.”

JW sukkel ook nog met sy geheue en is nie in staat om terug te keer werk toe nie, sê Alice. “Elke breinbesering is so uniek.”

Haar raad aan ander families wat deur ’n soortgelyke beproewing gaan, is om deurgaans aan God en sy beloftes vas te hou. “In so ’n tyd kan ’n mens net mekaar ondersteun.”

Die Stemmet-familie bedank almal wat ’n rol in JW se herstel tot dusver gespeel het.

’n Geldinsameling is begin om die familie te help met koste vir Stemmet se behandeling en versorging. Besoek die hulpfonds se Facebookblad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hallelujah ·

Hou vas aan God. Ek het ook ‘n breinbesering. Die geheue verlies is baie baie bad. Maar ek sit nog by die werk en hou vas. Glo nie mense verstaan verskillende breinbeserings nie – dink mens moet maar net aangaan soos normaalweg maar God versaan. En dis so so so goed dat JW en al die familielede bymekaar woon – dit is so ‘n groot steun daardie ook.
God seen julle almal.

Chris Ws ·

Ons is in ‘n soortgelyke situasie na iemand van agter af in ons vasgejaag het.My vrou het ook ‘n breinbesering opgedoen.Sy was 4 maande in die hospitaal.Sy’t weer leer loop maar kan nie beweeg sonder haar 3 poot kierie nie.Haar regter arm is onbruikbaar.SY het ‘n spraak probleem en ongeveer 30 jaar se geheue verlies.Sy kan ons troudag gladnie onthou nie.Sy kan niks in en om die huis self doen nie en het als self gedoen vir 40 jaar tot die ongeluk amper 6 jaar gelede.Ek behartig die huishouding en versorg haar op my eie.Haar liggaams funksies is ook ‘n groot kopseer na dese omdat haar “knypers” nie elke keer reg werrrrk nie.Ja,’n breinbesering is nie ‘n speletjie nie.Ons Vader was en is steeds ons anker.Sonder SY genade en getrouheid sou sy nie bly leef het nie.Goddank ons het altyd sitplekgordels aan.Sterkte aan julle mense.

Jo ·

Julle is my helde, gewoonlik wanneer so iets gebeur hardloop mense en dis wow om julle stories te lees. Chris, jy het al my respek, ken jou nie maar wat n voorreg om jou storie te lees. Sterkte aan almal.

Karolis ·

Chris WS,
Ek eer jou vir die feit dat jy by jou belofte voor God staan.
Chris, nieteenstrydig met jou geloof, probeer gerus akkupunktuur.

Eddy ·

Dankie vir die inspirerende lewensverhale van dié lesers.Dit laat my opreg my gesondheid waardeer.Sterkte daar en hou goeie moed.Psalm34v.20

Esta venter ·

Sterkte vir al die families wat hier deur gaan, julle is hero’s. Met God se hulp is alles MOONTLIK, dankie vir die deel van julle hartseer met ons.

Esta venter ·

Sterkte vir al die families wat hier deur gaan, julle is hero’s. Met God se hulp is alles MOONTLIK, dankie vir die deel van julle hartseer met ons.

Essie ·

Ek is ook daardeur was vir 3 mnde bewusteloos en ht vriende en my meisie van daai tyd my afgeskryf dokters ht gesê ek sou nooit weer kon loop nie,maar ek dien n groot God wat my weer opgetel ht en vn dag na baie fisio kan ek weer loop is 30 jaar al getroud met n wonderlike vrou wat my aanvaar het soos ek is en is nou oupa van 2 kleinkinders.

Bamsie ·

Ek is in die spinale koord deur n dokter beseer. My lewe het hand omkeer verander. Vriende het my ook afgeskryf na die eerste jaar. Tog gaan mens aan.

RD ·

Bamdie, jammer om te hoor van die sogenaamde “vriende” wat jy ontslae van geraak het. Dis in tye van swaarkry en seerkry dat jy werklik agterkom wie vriende is en wie net meelopers was…

Bekkie ·

Chris – ek haal my hoed vir jou af! Bid vir jou God se seën toe – dit kan nie maklik wees nie.

Andre ·

‘n Tragedie. Sluit betuurveiligheid in die bewusmaking. Bv veiligheidsgordels verhoed uitslinger van motors.

RD ·

Ek is saam my sy gesin bly dat JW gespaar is, ten spyte van die beserings wat hy opgedoen het. Hy moet net moed hou. Sterkte aan sy gesin en familie.

apie ·

Sterkte. Dit is inderdaad nodig om mense bewus te maak van die trauma van breinbeserings, dankie aan hulle.. Gaan lees daaroor na en jy sal besef dat ‘n verlore deel van jou brein nie kan herstel soos lewerweefsel nie. Dit neem maande tot jare om te herstel, en selfs dan sal mens nie weer dieselfde wees- afhangend van die trauma nie. Pas jou brein op. Dit is jou enigste een

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.