Man bly agter tralies ná dubbelmoord op ma, dogter

Ruzanne Weideman en haar ma, Magdalena Prinsloo (Foto: Facebook/Ruzanne Weideman)

Paul Prinsloo, die 61-jarige man wat van die dubbelmoord op sy vrou, Catherina Magdalena Prinsloo (58), en stiefdogter, die 31-jarige Ruzanne Weideman, beskuldig word, het Woensdag in die Brits-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die ma en dogter is Maandag omstreeks 14:30 by hul huis op Kosmos in Noordwes doodgeskiet. Daar was na bewering ʼn rusie tussen Paul en Magdalena, waarna hy glo sy jaggeweer gaan haal en albei vroue doodgeskiet het. Nooddienspersoneel het die ma en haar dogter op die toneel dood verklaar.

Prinsloo is kort ná die voorval by die huis in hegtenis geneem.

ʼn Gesinsvriend het aan Maroela Media gesê dat Magdalena glo van die balkon af op Prinsloo geskree en gedreig het om die huwelik te beëindig. ʼn Rusie het glo ontstaan, waarna Paul na bewering die vuurwapen gaan haal het en eers vir Ruzanne, wat op die grondvloer was, en daarna haar ma, wat glo op die boonste vloer was, doodgeskiet het.

Die vriend sê Ruzanne se sesjarige dogtertjie was glo ten tyde van die voorval op die toneel en is na veiligheid geneem.

Kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, sê Paul Prinsloo bly tot Woensdag, wanneer hy weer in die hof verskyn, agter tralies.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel, veral met die aanvang van die veldtog van 16 dae van aktivisme van geen geweld teen vroue en kinders in gedagte.

Ruzanne Weideman en haar ma, Magdalena Prinsloo (Foto: Facebook/Ruzanne Weideman)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Almal he mal geword. Mens kan nie jou werknemer vertrou nie, mens kan nie jou gade vertrou nie, mens kan nie jou buurman vertrou nie. Stomgeslaan oor wat alles in die nuus is.

Peach ·

@Marius, ek kan my werkgewer vertrou want, ek is my eie baas; ek kan my gade vertrou want, sy is my skelmpie, en laastens, ek kan my buurman vertrou want, die naaste een bly 100km van my af.

kierie1978 ·

So hartseer. Magdaleen was my Adrykskunde juffrou in 92/93 by Hoërskool Roodepoort. Oor die jare was ons bekend met haar familie. So tragies! R.I.V. Sterkte aan die familie in die moeilike tyd wat voorlê, mag tyd díe wond genees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.