Man brand erg ná ontploffing in woonstel

Argieffoto: ER24

ʼn 38-jarige man van Tzaneen is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy erge brandwonde opgedoen het toe daar ʼn ontploffing in sy woonstel was. ’n Brand het ná die ontploffing uitgebreek.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê paramedici en die Mopani-distrik se brandweerdiens is Maandag omstreeks 12:00 na die brandende woonstel in Aqua Park in Tzaneen ontbied.

Paramedici het met hul aankoms op die toneel die erg gebrande man buitekant die woonstel aangetref. Sy bure kon hom betyds uit die brandende woonstel red.

“Byna sy hele liggaam is oortrek met brandwonde en hy was in ’n kritieke toestand. Paramedici het hom op die toneel behandel voordat hy per ambulans na die Letaba-hospitaal op Tzaneen geneem is vir verdere mediese sorg,” het Campbell gesê.

Die oorsaak van die ontploffing is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

In ʼn afsonderlike voorval wat Maandagmiddag in dieselfde buurt plaasgevind het, het ’n bejaarde egpaar matige beserings opgedoen nadat hulle klaarblyklik deur petrolwalms van ʼn kragopwekker oorweldig is. Die bejaardes (75) het na bewering die kragopwekker vir twaalf ure lank in hul motorhuis laat loop.

“Die vrou was glo deurmekaar en het opgegooi. Paramedici het haar op die toneel behandel voordat sy na die Mediclinic in Tzaneen vervoer is. Haar lewensmaat het minder ernstige beserings opgedoen en is deur ’n familielid na die hospitaal geneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Skuilnaam

“…Die bejaardes (75) het na bewering die kragopwekker vir twaalf ure lank in hul motorhuis laat loop…”

Party mense word oud, maar leer NIKS! Ook seker nooit in die klas opgelet nie…