Man brand op konsertgangers los oor selfoon

Argieffoto

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na ʼn man wat Sondag in die vroeë oggendure op konsertgangers by die Hillbrow-teater in Johannesburg losgebrand het. Een persoon is tydens die voorval dood en nege is gewond.

Die Gauteng-polisie het in ʼn verklaring gesê die voorval het omstreeks 02:15 plaasgevind.

“ʼn Orkes van Zimbabwe het daar opgetree toe ʼn man op die verhoog geklim het terwyl die orkes gespeel het. Hy het ʼn mikrofoon gegryp, gesê sy selfoon is gesteel en het gedreig om die orkes te onderbreek as hy nie sy selfoon terugkry nie. Hy het lukraak op konsertgangers losgebrand toe hulle probeer ingryp het,” lui die verklaring.

Die skieter het ná die voorval op vlug geslaan en is nog soek.

ʼn 26-jarige man, vermoedelik van Zimbabwe, is op die toneel dood. Die beseerdes is deur paramedici na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord.

Gerard Bester, die teater se direkteur, het in ʼn verklaring gesê die bestuur en personeel by die teater is geskok en hartseer oor die traumatiese en gewelddadige voorval. Bester het bevestig die teater het Saterdagaand spasie aan ʼn onafhanklike vervaardiger verhuur. Van die mense wat opgetree het, is ook beseer.

“Bykomende sekuriteit word by alle geleenthede gereël wat by die Hillbrow-teater gehou word. Dit geld ook vir maatskappye wat by ons spasie huur. Die teater bly toegewyd om ʼn veilige ruimte vir die gemeenskap en besoekers te bied,” het Bester gesê.

Bester het sy innige meegevoel aan die slagoffers betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

A ·

Ek vermoed mense raak nou heeltemal buite beheer omdat dinge net eenvoudig nie reg is nie. In ons onderbewussyn weet ons die polisie gaan ons nie bekerm nie. Sekuriteit is net so bang of korrup. Ek dink die absolute magteloosheid is besig om mense te vang.

Boontjie ·

Sjoe maar dit gaan darem lekker in SA, veral waar SA en Zimbabwe saam vergader. Ons ordentlike mense moet maar net wegbly van sulke tipe geleenthede en en besighede moet ophou om hul te borg, dis nou as de besigheid nie die tipe gedrag goedkeur nie.
Ons moet maar net terugsit en wag, hulle sal mekaar uitsort. Ons moet net laag le, by die huis bly en veilig wees. Sorg vir jou eie vermaak by die huis, so spaar jy geld, is nie op die pad nie, pas jou eiendom op en stel ook nie jou lewe in gevaar nie.
En ja, ons het die reg om vrylik rond te beweeg, maar is dit regtig nog so lekker?? Alles het duur en gevaarlik geword, dinge sal wel weer “normaliseer”. Ek hoop …

Willem ·

Ek stel voor die teater kyk na ander sekuriteit want hoe laat hulle iemand met n vuurwapen in by so iets….en in elk geval n konsert so laat of sal ek se vroeg in die oggend is uit en uit nou moeilikheid soek. Hillbrow van alle plekke……

Leahim ·

Ek wonder hoeveel SA burgers bly en kom in Hillbrow en hoeveel is imigrante meestal sal seker onwettig wees.Ek dink die adjunkminister van polisie het beweer 80% is imigrante maar dit is voor hy deur “eerlike “?? fikile gemuilband is.

Johannes van Staden ·

Mense is so aggresief …het iemand verbygesteek en volgende oomblik toe word ons agtervolg. Net jammer die man ry n ou lui bakkie wat toe gladnie kon byhou nie. Wat dink die belhamel wil hy doen wonder mens net …..BAIE dom !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.