Man, broer beplan glo vrou se moord

Argieffoto

ʼn Man sal na verwagting Woensdag in die Bloemfontein-landdroshof in die Vrystaat saam met sy broer en vriend verskyn in verband met sy vrou se moord. Die moord is glo haarfyn deur die man en sy broer beplan.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die vermoorde se man Kopano Tjobo (41), sy broer, Tshukudiso (34), en hul vriend, Thapelo Monnane (39), sal Woensdag amptelik om borgtog aansoek doen. Die Tjobo-broers is albei burgers van Lesotho.

Makhele sê volgens Kopano se getuienis het Sefora Tjobo (41) (sy vrou) na bewering op 2 Julie hul huis om 08:00 verlaat. Hy beweer hy het agterdogtig begin raak toe hy later die dag ʼn brief van haar gekry het, waarin staan dat sy iemand naby die Dinaweng-nedersetting in Bloemfontein gaan ontmoet. Volgens Kopano het haar selfoon langs die brief agtergebly.

Kopano het verklaar dat hy die Saterdag (4 Julie) om 13:44 in die veld langs die Dinaweng-nedersetting na Sefora gaan soek het. Hy het beweer dat hy haar liggaam in ʼn dam langs die Dewetsdorp-pad gevind en die polisie ontbied het.

Makhele sê ʼn saak van moord is aanhangig gemaak. “Tydens Kopano se ondervraging, het hy beweer dat hy in die tyd van die moord saam met Thapelo (sy vriend) by dié se huis was,” sê hy.

Die polisie se ondersoek het egter aan die lig gebring dat die man en sy broer Sefora se moord beplan het. Makhele sê die brief wat volgens Kopano klaarblyklik deur Sefora geskryf was, was in der waarheid deur Tshukudiso geskryf. “Dit was met die doel om die ondersoek te laat sloer,” sê hy.

Makhele sê die polisie het later vasgestel Sefora is op 2 Julie deur Kopano uit die huis gelok. “Hy het seker gemaak die bure sien dat sy die huis alleen verlaat sodat haar verdwyning nie met hom verbind sal word nie.” Kopano het Sefora toe glo na ʼn plek in Dinaweng gevolg, waar hulle sou ontmoet.

Kopano het Sefora toe na bewering gesteek en verwurg terwyl sy broer haar vasgehou het.

Makhele sê die broers het Sefora se liggaam in die dam, waar sy volgens Kopano gevind was, gaan plaas. Hulle is daarna weer na sy vriend Monnane se huis.

Die drie is in hegtenis geneem en het verlede week Maandag hul eerste hofverskyning gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Daar vang slim sy baas met die skryf van die brief, daar is seker versekeringpolis betrokke?

Nella ·

Hoe vermoor jy die vrou aan wie jy trou gesweer het en met jou lewe sal oppas? Ek grap altyd en sê ek het nog nooit eers daaraan gedink om my man aan te rand nie maar om te vermoor, baie. Hy is my lewe en ons is mos nou een. Het daardie mense geen skuldgevoel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.