Man buite JHB-laerskool geskiet

De La Salle-junior skool Foto: delasallejunior.co.za

De La Salle-junior skool Foto: delasallejunior.co.za

ʼn 53-jarige man is Donderdagmiddag buite ʼn skool in Victory Park in Johannesburg geskiet.

“Hy is drie keer geskiet,” het konst. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. “Die man is vermoedelik van ʼn FNB-bank in Randburg agtervolg.”

Die man het om 13:50 by die De La Salle Holy Cross College aangekom om sy dogter op te laai.

“ʼn Wit VW Golf GTI met donker ruite het agter hom parkeer,” het Mulamu gesê. “Twee mans het uitgeklim, die man se passasiersdeur oopgemaak en probeer om ʼn sak met R40 000 kontant te gryp. Die rowers en man het oor die sak gestry en die man is geskiet.” Hy is glo in die arm en been getref.

Die rowers het met die kontant gevlug.

Die man is na die Milpark-hospitaal geneem.

Volgens Mulamu is die polisie steeds op soek na die verdagtes.

EWN berig die skote is 10 minute voor die klok sou lui buite die laerskool gehoor. “Die onderwysers het vinnig reageer en seker gemaak alle leerlinge is veilig agter geslote deure,” het die skoolhoof Debbie Harris aan EWN gesê. Die skoolhoof het die situasie in die skoolsaal aan die kinders verduidelik en geen kind mag die skoolgrond verlaat het totdat die ambulans weg is nie. EWN berig verder buitemuurse aktiwiteite is gekanselleer en die skool sal berading verskaf indien nodig.

Bron: SAPA, EWN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.