Man by Durban-sportklub doodgeskiet

Berea Rovers Sport Club

Berea Rovers Sportklub

ʼn Man is doodgeskiet nadat hy en medepligtiges ʼn veiligheidswag vroeg Sondagoggend by ʼn Durban-sportklub aangeval het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn veiligheidswag het die onbekende man geskiet toe die wag met ‘n klip en ʼn ysterstaaf aangeval is by die Berea Rover-sportklub in Jacko Jacksonrylaan naby King’s Park-rugbystadion. Die wag het reageer op ʼn alarm toe hy aangeval is.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die voorval het kort ná middernag Sondagoggend plaasgevind. “Een van ons gewapende reaksiebeamptes is op ʼn perseel in Jacko Jacksonrylaan in Stamford Hill deur ʼn groep gewapende persone aangeval.”

Die groep het die veiligheidswag aangeval net toe hy die perseel wou verlaat. Hulle het hom met ʼn groot klip oor die kop geslaan. Hy het vir sy lewe gevrees en sy vuurwapen uit verdediging gevuur. Een van die aanvallers is getref. Die ander persone het in ʼn onbekende rigting van die toneel gevlug.

Bykomende dienste is na die toneel ontbied, insluitend paramedici van Netcare 911. Die persoon het ʼn noodlottige skietwond opgedoen en hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

“Ons gewapende beampte is beseer en hy is op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere behandeling,” het Van Reenen bygevoeg.

Van Reenen het gesê verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die veiligheidswag gesukkel het om die veiligheidshek toe te maak toe hy die perseel wou verlaat, en toe hy uit sy motor klim om ondersoek by die hek in te stel, is hy aangeval. “Nadere ondersoek deur owerhede het bevind dat daar met die hek gepeuter is. ʼn Draad is gebruik om die hek te dwing om oop te bly en moontlik die veiligheidswag uit sy voertuig te lok,” het hy verduidelik.

ʼn Omvattende soektog is van stapel gestuur na die res van die aanvallers, maar hulle bly op vrye voet.

Zwane het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek is by Durban-polisiestasie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anna ·

n Medalje vir die wag asb. Dit is bitter gevaarlike werk om reaksie te werk in sekuriteitsbedryf. Die ouens word baie sleg behandel as hulle nie gou genoeg op alarm reageer nie. Niemand dink daaraan dat hulle soms man-alleen klomp skelms moet aandurf nie. Ek is trots op jou mnr Sekuriteit.

jaco ·

Vir wat word ‘n geregtelike doodsondersoek gedoen? Dis dan so duidelik soos daglig wat gebeur het: 5 mans val 1 sekuriteitswag aan en hy skiet uit selfverdediging. Moes hy dan net stilgestaan het en gesê het “rand my aan en/of vermoor my asseblief want julle misdadigers is ok en het allerhande menseregte”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.