Man by hof vas vir moord op bejaardes

Argieffoto

ʼn 21-jarige man is by ʼn hof buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn bejaarde egpaar verlede maand.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is Woensdag in hegtenis geneem toe hy in die Paterson-landdroshof verskyn het in verband met ʼn saak van huisbraak. Hy word verdink van die moorde op Ken Alexander (76) en Elaine Allwright (78).

Die egpaar is einde September wreed in hul huis in Schoenmakerskop aangeval. Alexander is tydens die aanval doodgeslaan. Allwright is erg aangerand tydens die aanval en in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem waar sy ʼn paar dae later oorlede is.

Volgens Naidu word die verdagte ook aangekla van ʼn moord wat op 23 September op die terrein van die Forest Hill-begraafplaas in Schoenmakerskop plaasgevind het. Tyrone Plaatjies (49) is met ʼn hamer doodgeslaan terwyl hy en ʼn vriend in ʼn woonwa gelê en slaap het en deur twee mans oorval is. Die aanvallers het met R50, ʼn selfoon en Plaatjies se voertuig op die vlug geslaan. Plaatjies het op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk.

Naidu het gesê die verdagte sal Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op drie aanklagte van moord en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Sy het gesê die polisie verwag om binnekort nog inhegtenisnemings te maak. Die polisie stel ook ondersoek in of die verdagte met ander misdade verbind kan word.

Brig. Keith Meyer, adjunkbevelvoerder van die Mount Road-groepering, het gesê speurders van die Walmer- en Humewood-polisie het ywerig gewerk om die verdagte op te spoor. “Hulle het alle inligting in verband met die moord op die bejaarde egpaar opgevolg. Hulle het byna 24 uur per dag gewerk en het geen moeite ontsien nie. Dit is altyd ʼn uitdaging om ʼn saak op te los as daar bykans geen getuies is nie.”

Lees alle vorige berigte oor die Schoenmakerskop-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.