Man by hof vir moord in hegtenis geneem

Miguel Louw. Foto: Facebook.

Die man wat aanvanklik daarvan beskuldig is dat hy die tienjarige Miguel Louw van Sydenham in Durban ontvoer het, is Woensdag in die stad se landdroshof op aanklag van moord in hegtenis geneem.

ʼn Klag van moord is by die klagstaat teen Mohammed Vahed Ebrahim gevoeg en hy sal nou in die Westville-gevangenis in aanhouding bly.

Ebrahim het tydens sy vorige hofverskyning in Oktober weggehardloop en probeer om weg te kruip toe Miguel se woedende pa hom in die hofgange af gejaag het. Chaos het in die hofgebou ontstaan toe dit aan die lig gekom het dat Ebrahim nié op aanklag van moord tereg staan nie en dat sy borgtog verleng is.

Woensdag het die seuntjie se familie en ondersteuners geglimlag toe hulle hoor Ebrahim is nou aangekla en sal agter tralies bly tot sy volgende borgtogverhoor.

Ebrahim het Woensdag vlugtig in die hof verskyn, maar sy vryheid was van korte duur en hy is deur speurder Rajem Govender in hegtenis geneem toe hy by die hof uitstap. Ebrahim se regte is vir hom voorgelees ten aanskoue van almal wat buite die hof in die gang gestaan het.

Hy is daarna na die polisiestasie geneem waar die bykomende aanklag teen hom bygevoeg is en toe teruggebring na die hof toe. Daar is die saak na die streekshof oorgeplaas.

Familielede en lede van die gemeenskap betoog buite die Durban-landdroshof tydens ‘n vorige verskyning van Mohammed Vahed Ebrahim. Die foto is geneem voordat Miguel Louw se liggaam gevind is (29 Augustus 2018). Foto: Bongani Mbatha/ANA

Miguel het op 17 Julie naby sy skool in Sydenham vermis geraak. Sy liggaam is op 3 September ongeveer 25 km verder in Phoenix in ʼn vlak graf gevind. Die graf was ʼn paar honderd meter weg van Ebrahim se huis.

Sy liggaam is nege dae nadat dit gevind is deur middel van DNS-toetse geïdentifiseer.

Die seuntjie se verdwyning het landwyd opslae gemaak met die familie wat in die media gesmeek het dat hy teruggebring word en ʼn beloning van R50 000 uitgereik het vir sy terugkeer.

Ebrahim is in Julie in hegtenis geneem in verband met Miguel se verdwyning en van ontvoering aangekla. Hy is met die saak verbind nadat kringtelevisiebeeldmateriaal gewys het hoe hy die kind na ʼn kitskosrestaurant neem naby Miguel se skool. Miguel se geboortesertifikaat is ook in sy besit gevind.

Ebrahim is ná sy inhegtenisneming op R2 500 borgtog vrygelaat. Enkele dae later is die seuntjie se liggaam gevind.

Hy sal weer op 12 Desember in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ek dink ·

Ai, breek n mens se hart. Dis angswekkend om te dink hoeveel bose mense loop rond en wat net wag vir n kans om iets aan n kind te doen.

linda limbo ·

ek lees vanoggend se gedagte vir die dag “moenie oordeel nie”
maar is daar ‘n groot genoeg straf vir iemand wat ‘n kind vermoor?

MS ·

Ai, ek hoop regtig dat geregtigheid sal geskiet. Hierdie arme kind het nog sy hele lewe voor hom gehad, my hart gaan uit aan sy ouers, sy sussie en familie. Dit moet verskriklik wees om so iets deur te moet gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.