Man by winkelsentrum geskiet toe polisie hom wou vastrek

Die verdagte word behandel. Foto: Via Critical Life Assist

ʼn 55-jarige man is Donderdag by ʼn winkelsentrum in Centurion geskiet toe die polisie hom in hegtenis wou neem.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder van die Wierdabrug-polisie, het aan Maroela Media gesê polisiebeamptes het inligting by ʼn informant gekry oor ʼn verdagte wat by die Saxby Centre in Eldoraigne was.

“Die polisie het die inligting opgevolg en is omstreeks 11:00 na die sentrum waar hulle die verdagte opgemerk het. Toe die polisie die man genader het, het hy ʼn vloeistof oor hulle gegooi en gesê dit is benseen,” het Huma gesê.

Die man het hom glo teen inhegtenisneming verset en met die polisiebeamptes baklei.

“In ʼn stadium wou hy een van die polisiebeamptes met ʼn mes aanval. Hulle het gesien die man is gevaarlik en die informant het hom in die bolyf geskiet.”

Paramedici van onder meer ER24 en Hi-Risk Unit se mediese eenheid is na die toneel ontbied.

“Die man was geweldig aggressief en het sy humeur verloor en paramedici aangerand. Paramedici, polisie en veiligheidsbeamptes moes die man aanhou,” het Arthur Crewe, woordvoerder van Hi-Risk Unit, aan Maroela Media gesê.

Volgens Huma het die man probeer weghardloop nadat sy wond verbind is, maar is hy spoedig weer aangekeer.

Die man is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die man word aangekla van poging tot moord en sal in die hof verskyn wanneer hy ontslaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frederik ·

Nog ‘n ideale geleentheid vir Opot om te ondersoek. Wat was die oorspronklike aanklag vir arrestasie?

Uiltjie ·

Ek verneem die verdagte was gesoek vir aanranding,intimidasie,afpersing en rig van vuurwapen.

Toekie ·

Sjoe! Ons lewe nou in ‘n ander soort tyd! Cowboys and Indians was baie mak! Oumense durf dit nie meer opstraat waag nie!

Bloutrein ·

As hy wit was sou hy geskiet gewees het as hy anderskleurig was sou die polisie weggehol het en hom om verskoning gevra het … . kan net nie mooi op die foto sien nie maar die ou lyk redelik lig van kleur .want deesdae mag mens mos nie kleur noem nie, jy moet dit mos van die foto of van die name probeer aflei. VAN WANNEER AF SKIET ‘n INFORMANT iemand?? Goeie liewe hemel wat het van ons polisie en regstelsel geword? Hulle staan en kyk hoe betogers ‘n hele DORP vernietig, polisiemanne oor die kop kap met ‘n BYL maar die ou met BENSIEN word deur ‘n INFORMANT geskiet? Nee aarde, nou het ek alles gehoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.