Man by vakansieoord doodgeskiet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: ATKV-Buffelspoort)

ʼn Man is in die vroeë oggendure by die ATKV-Buffelspoort buite Rustenburg, waar hy glo vakansie gehou het, doodgeskiet.

Reinard du Plessis, bemarkingsbestuurder van die ATKV, het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat die voorval wel vanoggend plaasgevind het, maar kon nie uitbrei oor die besonderhede van die voorval nie.

“Ons kan nog nie kommentaar lewer op wat presies tot die voorval gelei het nie, maar die polisie is wel besig om die saak te ondersoek,” sê hy.

Die oord wag nog op die polisie se forensiese ondersoekers om die toneel te fynkam voordat enige besonderhede aan die publiek bekend gemaak kan word.

Dit is ook nog nie duidelik of ʼn verdagte in verband met die voorval al vasgetrek is nie.

Volgens Du Plessis is die ATKV se hooffokus nou om die nodige ondersteuning aan die familie van die oorledene te bied.

“Ons fokus daarop om die gesin en personeel by die oord by te staan want uiteraard is baie mense as gevolg van die voorval getraumatiseer.”

Hoewel die ATKV-Buffelspoort in hierdie stadium steeds oop is vir besoekers, sê Du Plessis dat die ATKV ná afloop van die polisie se ondersoek hierdie besluit kan heroorweeg.

“Die oord bly oop tot verdere kennisgewing. Afhangende wat die polisie se ondersoek oplewer, sal ons dit van daar af verder hanteer.”

Maroela Media het navraag aan die polisie gestuur, maar dié is nog besig om die verloop van gebeure uit te pluis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Furds ·

Sjoe dis rof. Was Januarie daar om te kamp. Hoop dit is maar n geisoleerde voorval met n goeie verduideliking oor wat gebeur het anders sal mense nie meer veilig kan voel wanneer jy vakansie hou.

Suzette ·

Ferdi niemand is meer nerens veilig nie. Bronkhorstspruit brandweerstasie is n vroulike brandbestryder ook gisteraand doodgeskiet. Nou op Buffelspoort ook. Skote het ook gisteraand in Rustenburg gereen in n woonbuurt. Van dit het inwoners se dakke getref. Ons is sitting ducks en dit gaan net erger word my vriend

George ·

Ek weet nie hoekom nie, maar voel die is nie net n gewone saak nie

Cherokee ·

Is waar Diline, maar hulle hou ook vakansie, en werk dan tydens hul vakansie steeds.

Chantel ·

Oh my goodness. Dit kan die oord bitter baie skade doen as daar aan lig kom dat dit ‘n buite persoon was wat die moord gepleeg het.

Swerwer ·

Genade, maar dit raak net erger. Jy is nêrens meer veilig nie. Of dit nou ‘n geisoleerde geval is of nie,
dit is onaanvaarbaar dat ‘n persoon se lewe geneem word. Innige simpatie en meegevoel met die familie en naasbestaandes.

Mariaan ·

Nee! Kan dit nie glo nie!! Groot terugslag vir Buffelspoort…dog mens is veilig daar?? Skokkend!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.