Man by werkplek aangeval, beroof

Argieffoto

“Ek gaan jou skiet. Ek gaan jou skiet.” Dít was die woorde wat Vernon Brynard (54), ʼn senior administratiewe beampte by Metrorail, herhaaldelik gehoor het toe ʼn gewapende rower hom Woensdag omstreeks 04:30 van agter af oorval en ʼn vuurwapen in sy rug gedruk het.

Brynard, ʼn lid van die United National Transport Union (Untu), het aan die vakbond vertel daar was geen veiligheidspersoneel aan diens op die perseel van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), waaronder Metrorail val, by die Koebergdepot naby Kaapstad toe hy aangeval is nie.

“Die rower het my selfoon en my bril gegryp en weggehardloop. Ek is so dankbaar dat ek nog leef en dat hy my nie geskiet het nie. ʼn Lewe is meer werd as ʼn selfoon,” het Brynard gesê.

Dit is die tweede keer in 18 maande dat hy by sy werkplek aangeval is. Die vorige aanval was by die Kraaifontein-stasie waar hy deur ʼn groep mans van sy selfoon beroof is.

“Ek en my kollegas vrees vir ons lewe wanneer ons soggens opstaan om te gaan werk. Die harde werklikheid is dat ons werksomgewing lewensgevaarlik geword het en niks word daaromtrent gedoen nie,” het hy gesê.

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, het gesê die vakbond sal aanstaande week sy aansoek teen Prasa in die hooggeregshof in die Wes-Kaap indien. Untu vra die hof vir ʼn bevel om Prasa te dwing om veiligheidsmaatreëls drasties op te skerp.

“Untu het alle vertroue in Prasa se gewilligheid om die krisis betekenisvol aan te pak, verloor. Dit is absurd dat ʼn werkgewer deurlopend met so ʼn ernstige veiligheidsituasie gekonfronteer word en dit dan maar net deurgaans met stilswye begroet word.”

Harris het gesê dit laat Untu met geen ander keuse as om die hof te nader vir ʼn bevel om Prasa te dwing om praktiese en redelike stappe te doen om die veiligheid van hul lede onder die oë te sien nie.

Untu sal die hof vra om Prasa onder meer te dwing om ʼn mobiele gewapendereaksie-eenheid op die been te bring asook ʼn taakspan, waarin die vakbond ʼn sê sal hê, aan te wys om na ʼn langtermynstrategie vir die veiligheid van vakbondlede te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Belaglik ·

Dit is belaglik dat daar nie genoeg polisie beamptes is om jou werklplek te beveilig (hul het vroeer jare Polisie diens gehad), maar nee alle wette moet mos weg, kriminele het meer regte. Kyk maar as die man sou dreig om die rower te skiet is daar skielik 5 Polisie lede beskikbaar om hom op te pas vir ‘n veilige regverdige verhoor, maar hierdie wetsgehoorsame werkende burger het geen regte tot veiligheid en beskerming nie.

Piet Pompies ·

Hierdie voorval val onder ‘n werk besering en werk toestande. Elke werkgewer moet volgens wet voorsiening maak vir werkers se veiligheid en versuiming om dit te doen is strafbaar. Toesighouers wat volgens wet aangestel is om na die werkers se veligheid om te sien kan ook in hul privaat hoedanigheid aangekla word indien hul nalatig was.

Gerrit ·

Die SpoorwegPolisie is destyds ontbind omdat 2 polisiemagte onwettig was ( na die nuwe bedeling)…..en tog is nog `n nuwe mag , nl. MetroPolisie geskep …….hoe dan nou ????

marous ·

Misdaad moet deur die polisie voorkom word . Geen verskoning is aanvaarbaar nie. As daar vir elke landburger twee aangestel moet word dan moet dit so wees.

Carla ·

Baie swak dat Prasa nie ‘n veilige werksomgewing skep vir sy werkers nie. Bly Untu gaan hof toe om dit te verbeter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.