Man byna oor damwal ná middagslapie op boot

(Foto: Verskaf)

Geluk was Sondag aan die kant van ʼn man wat tussen twee oop sluise op die Vaaldam beland het nadat hy glo op sy boot aan die slaap geraak het.

Die dam se sluise moes gedeeltelik toegemaak word om die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) kans te gee om die man te help.

Jake Manten, die NSRI se stasiebevelvoerder by die Vaaldam, sê die man het skynbaar aan die slaap geraak terwyl hy visgevang het, waarna sy boot na die damwal gedryf het.

Die boot het tussen twee oop sluise beland en hulp is inderhaas ontbied om hom daar uit te trek.

“Toe ons daar aankom, het die man reeds daarin geslaag om sy boot se enjin aangeskakel om daar te probeer uitkom. Gelukkig het hy nog nie so ver gekom nie, want die sterk stroom sou hom oor die wal meegesleur het,” sê Manten.

“Ons moes selfs met die groot reddingsboot ons afstand hou totdat die sluise gedeeltelik toegemaak is.”

Die departement van water en sanitasie het die sluise vir sowat 15 minute gedeeltelik toegemaak terwyl die NSRI die boot na veiligheid gesleep het.

Die man is nie beseer nie en sy boot is ook nie beskadig nie.

(Foto: Verskaf)

Michael Kriel, ʼn amptenaar van die departement, sê die Vaaldam is tans 107% vol wat die owerhede ʼn paar weke gelede genoop het om sommige van die sluise oop te maak. Swaar reën in die opvangsgebied het tot die hoë watervlak gelei.

Daar is nie tans enige veiligheidskabels aan die Vaaldam se wal nie, maar die departement is glo besig om dit te vervang.

“Gewoonlik is daar veiligheidskabels aan ʼn damwal, maar die Vaaldam sʼn is tydens ʼn vorige vloed beskadig. Hierdie kabels kan ieder geval nie altyd keer dat ʼn boot oor die wal stort nie,” sê Kriel.

“As hy oor die wal gegaan het, sou hy dit moontlik nie oorleef het nie. Hy is baie gelukkig.”

Hoewel die Vaaldam se sluise oopgemaak moet word wanneer die dam te vol raak, meen Manten dat hulle nie gereeld oproepe ontvang van mense wat op die wal vasgekeer is nie.

“Wanneer die sluise oopgemaak word kry ons baie mense wat na die gebied toe gaan om daarna te kyk. Ons het al ʼn paar bote gehad waarvan die enjins voor die sluise onklaar geraak het, maar daar was omtrent in 1992 laas ʼn geval soos dié.”

Sommige van die Vaaldam se sluise is tans nog oop, maar dit sal na verwagting binnekort weer toegemaak word.

Kriel het lede van die publiek gemaan om dit nie te naby aan die damwal te waag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

Ai as mense maar net wil besef dat water nie ‘n mens se speelmaat is nie.
Ja, water het ‘n kalmerende uitwerking maar bly lewensgevaarlik, see, dam en rivier.

Aai ·

Waar is die tou wat daar moet wees waar die motor aan vashak as daar ‘n probleem is?

Martin ·

Dit is harde werk om vis te vang. Ek stel voor hy moet volgende keer sy boot op sy sleepwa agter in sy agterplaas trek omder ‘n koelte boom en daar ‘n uiltjie gaan knip. Die NSRI kan hom daar van ‘n afstand af monitor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.