Man daag vriende uit om regsfonds op te bou

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

‘n Video met meer inligting volg onderaan die berig. ʼn Lid van die publiek het R1 000 geskenk as sy bydrae tot Solidariteit se regsfonds, omdat sy vriende se kinders direk geraak word deur onregmatige regstellende aksie.

Johannes Kleinhans, die eienaar van Masjienburo, ʼn familiebesigheid in Worcester, het die geld geskenk en daag nou sy vriende uit om ook ʼn bydrae te maak. “Ek het ‘n klompie kennisse wat almal kinders het wat direk geraak word deur onregmatige regstellende aksie,” het Kleinhans gesê. “Ek het R1000 geskenk en daag my vriende uit wat ook kinders het wat hierdeur geraak word om dieselfde te doen.”

Solidariteit wil die regsfonds opbou om die stryd teen absolute rasseverteenwoordiging onstuitbaar te maak. “Solidariteit bereik reeds baie, maar meer is nodig om die ideologie van absolute rasseverteenwoordiging ’n nekslag te gee,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê. “Daarom het Solidariteit besluit om ’n regsfonds te stig wat so groot is dat hy enige saak sal kan aanvat; sy volle gang kan laat verloop tot op die hoogste vlak; én kan aandring op die nakoming van die uitspraak.”

Solidariteit se teiken vir die regsfonds is R10 miljoen. “Ons het reeds R3 miljoen. Sommige mense sou dink die teiken is ver buite bereik en dat Solidariteit se sukses van reuseskenkings gaan moet afhang, maar dit is nie so nie. Die omgekeerde geld eerder – Solidariteit het juis gekom waar hy nou is danksy die opregte, klein bydraes van duisende gewone mense,” het Hermann bygevoeg.

“Die Afrikanersaak lê my na aan die hart,” het Kleinhans bygevoeg. “Ek glo as ek die beskeie bydrae kan maak is daar duisende ander wat ook R1 000 elk kan skenk.”

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.