Man dae later gevonnis oor olifanttande

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

ʼn 50-jarige man is agt jaar tronkstraf opgelê etlike dae nadat hy deur die Sannieshof-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies in Noordwes in hegtenis geneem is.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het Moabi Victor Moribe in 2018 ses stukke ivoor ter waarde van R1 miljoen in sy huis bewaar. Ses verdagtes is destyds in hegtenis geneem, maar Moribe het daarin geslaag om die polisie te ontduik.

ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is deur die hof uitgereik, maar Moribe het toe reeds spoorloos verdwyn. Weens sy verdwyning was daar geen regverdiging om sy ses makkers in polisie-aanhouding te laat bly nie en hulle is dus later vrygelaat.

Polisiebeamptes het egter volgehou met hul soektog en Moribe verlede week opgespoor en in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die Itsoseng-streekhof verskyn en is agt jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuld beken het.

Moribe se vonnis is egter vir vyf jaar opgeskort, op voorwaarde dat hy nie in daardie tyd skuldig bevind word aan ʼn soortgelyke oortreding nie.

Genl.maj. Dintletse Molefe, waarnemende provinsiale kommissaris in Noordwes, het ten spyte hiervan polisiebeamptes geloof vir hul volgehoue pogings om Moribe vas te trek.

“Dit moet ʼn les wees vir diegene wat dink hulle kan misdade pleeg en daarmee wegkom. Die gereg haal misdadigers altyd in.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bella ·

Ag asseblief. Hoe presies gaan dit hom nou keer om dit nie weer te doen nie? Ek dink n groot probleem is dat die regters self nie dink dis n vreeslike misdaad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.