Man deur koevoet deurboor: ‘Dit is net genade’

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Danie de Wet en sy vrou, Lizl. Foto: Facebook

Danie de Wet en sy vrou, Lizl. Foto: Facebook

ʼn Doodgewone werksdag het vir Danie de Wet (34) in ʼn nagmerrie ontaard toe hy gegly en ʼn 1,8 meter lange koevoet hom van sy lies tot sy linkerskouerblad deurboor het.

De Wet, ’n ingenieurstoesighouer en mynreddingswerker by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng, was met verlof toe hy op 10 Januarie gevra is om by die myn te kom help. “Ons is verantwoordelik om water uit die myn te pomp en die damme waaruit die water gepomp word, was modderig en dit het probleme veroorsaak,” het hy gesê.

Danie de Wet in die hospitaal. Foto: Facebook

Danie de Wet in die hospitaal. Foto: Facebook

Hy verduidelik hy en ʼn span ambagsmanne wat saam met hom werk, het langs ʼn silo-dam gestaan en die modderwater uitgepomp. “Van tyd tot tyd het die klep waaruit die water gekom het, met harde stukke modder verstop geraak en dan moes ons die koevoet gebruik om die modder los te maak,” het hy gesê.

“Ek het die koevoet langs ʼn ander klep staangemaak sodat ons dit maklik kan bykom wanneer ons dit wil gebruik. In ʼn stadium het ek op ʼn suigpyp probeer klim om bietjie uit die modder te kom, maar ek het vergeet die koevoet staan agter my. Die koevoet was vol modder en nie duidelik sigbaar nie. My voet het gegly en ek het bo-op die koevoet geval en gevoel hoe hy dwarsdeur my lyf steek.”

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Volgens De Wet was dit nie seer toe die koevoet hom deurboor het nie, vermoedelik weens die adrenalien wat deur sy lyf gepomp het. “Ek het dadelik besef wat gebeur het en net begin bid. Ek het gewonder of ek hemel toe gaan en aan my vrou en kinders gedink. Toe ek my oë oopmaak, was ek heeltemal kalm.”

ʼn Kollega het op die radio om hulp geroep en kort daarna was paramedici op die toneel om De Wet te behandel. Hy is dieselfde dag nog na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gevlieg waar ʼn span dokters, insluitend trauma-chirurge, op hom gewag het.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

“Ek kan niks onthou van die vlug hospitaal toe nie,” het hy gesê. “Ek het na die tyd gehoor ek het twee keer probeer om die koevoet self uit te trek, maar ek kon dit nie regkry nie omdat die koevoet my daarvan weerhou het om vooroor te buig.”

De Wet is die aand om 20:00 geopereer en die koevoet is verwyder. ʼn Klein gedeelte van sy maag en dikderm, waar die koevoet deurgesteek het, moes verwyder word en hy is ook sy linkernier kwyt. ʼn Gedeelte van sy long is raakgesteek en een van sy ribbes is gebreek.

De Wet is bo alle verwagtinge 19 dae later uit die hospitaal ontslaan. “Dit is net ʼn wonderwerk en genade. Dit is ʼn wonderwerk dat ek leef, dat ek geen permanente skade oorgehou het nie en dat ek nie rehabilitasie moes kry nie. Vandag is ek weer heeltemal normaal soos ek nog altyd was. Mense glo nie altyd in wonderwerke nie, maar dit gebeur elke dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

boer ·

Amen my vriend Amen. Wonderwerke gebuer nog vandag,
jy is n bewys daarvan. Ons Vader het nog n plan met jou op hierdie aarde

CHRISTA ·

PRYS DIE HERE!!! Dan dink mense wonderwerke gebeur nie meer nie!!! Ek is so bly jy het so wonderlik herstel. Jy kan die liewe HERE net elke dag daarvoor dank!!!

neelsie ·

Danie jy is n” yster’.
Jou getuienis laat ons God glimlag.

yvonne ·

Watse wonderlike berig
Dankie my Heer dat U vir almal kan wys U is nog daar, en wonderwerke gebeur nog

Theresa ·

Danie, dis wonderlik dat jy dit oorleef het! En dankie dat jy nie skroom om die wonderwerk uit Sy hand raak te sien en dit te loof nie. Mag jy nou ook die genesende krag ervaar en totaal herstel. Jy’t sommer ‘n klomp mense wat aan jou dink en vir jou bid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.