Man deur seekoei aangeval

Terence Downes 'n dag nadat hy deur 'n seekoei aangeval is. Foto: Facebook

Terence Downes ‘n dag nadat hy deur ‘n seekoei aangeval is. Foto: Facebook

ʼn Werknemer van die Pilanesberg Nasionale Park is deur ʼn seekoei aangeval.

Volgens ʼn inskrywing op die park se Facebook-blad is Terence Downes beseer toe hy Sondag as deel van ʼn uitgebreide voetpatrollie-groep in die park gestap het. Dit is onduidelik of Downes ʼn wildbewaarder is.

Die seekoei het in ruigtes ver weg van water af geslaap en die patrollie-groep het onverwags op hom afgekom. Hulle het aanvanklik gedink dit is ʼn rots omdat die seekoei baie stil gelê het en grootliks deur bosse bedek was. Toe hulle egter nader kom, het die seekoei op hulle afgestorm.

Downes, wat die groep gelei het, was die enigste een wat beseer is. Hy het wonde aan sy bene opgedoen. Geen skote is afgevuur nie en die seekoei het weggehardloop.

Uwe Hohl, ʼn paramedikus wat saam met die groep was, het Downes se wonde verbind en die parkbeamptes is in kennis gestel. ʼn Helikopter wat in die park was, op soek na ʼn beseerde dier, het na die toneel gehaas en het Downes na Sun City gevlieg vanwaar hy per ambulans na die Ferncrest-hospitaal in Rustenburg vervoer is.

Dinah Rangaka, woordvoerder van die park, kon nie die aard van Downes se beserings bevestig nie en het gesê sy sal aan Maroela Media kommentaar lewer sodra meer inligting beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

simone venter ·

sjoe, die man het n noue ontkoming gehad! Baie sterkte en word gou gesond. Dit lyk asof daai wonde baie erg is….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.