Man deur weerlig doodgeslaan in Vrystaat

Argieffoto

ʼn Man is Maandagmiddag in Sasolburg in die Vrystaat deur weerlig doodgeslaan terwyl hy skuiling teen die donderstorm probeer soek het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê die man en sy kollegas was omstreeks 16:00 besig om buite te werk toe die storm opgesteek en dit begin reën het. Hulle het besluit om skuiling in ʼn kamer op die erf te vind, maar voor die man daar kon uitkom, is hy deur weerlig getref.

“Sy kollegas het hom by die kamer ingetrek en die nooddienste gebel. Paramedici het hulle na die toneel gehaas, maar by hul aankoms het die man geen tekens van lewe meer getoon nie. Hy is op die toneel dood verklaar,” sê Vermaak.

Vermaak sê mense onderskat grootliks hoe gevaarlik weerlig is. “Indien iemand deur weerlig getref word, moet jy onmiddellik die nooddienste ontbied. As die persoon bewusteloos is en nie asemhaal nie, begin met mond-tot-mond-asemhaling. Vra die persoon wat die nooddienste se noodlyn beantwoord om jou deur die stappe te begelei as jy nie weet hoe om kardiopulmonêre resussitasie (KPR) te doen nie.”

Dit is noodsaaklik dat KPR onmiddellik gedoen word aangesien die elektriese skok van die weerlig ʼn uitwerking op die hart se ritme kan hê wat veroorsaak dat dit nie meer voldoende klop nie.

Vermaak sê ʼn erge elektriese skok soos deur weerlig veroorsaak, kan byna elke orgaan en weefsel in die liggaam aantas en uitgebreide skade veroorsaak. In erge gevalle kan dit lei tot ʼn hartstilstand of veroorsaak dat die persoon ophou asemhaal, asook tydelike verlamming, tydelike doofheid en in sommige gevalle selfs brandwonde.

“Donderweer en weerlig begin gewoonlik voor die reën begin val, so moenie wag tot dit begin reën voor jy op ʼn veilige plek skuiling vind nie. Maak seker jy is binnenshuis met die deure en vensters toe. Al is dit mooi om na die weerlig te kyk, moenie naby vensters en deure staan nie. Staan minstens 2 m weg. Ontkoppel ook elektroniese toerusting in jou huis.”

Vermaak sê indien dit nie moontlik is om binne ʼn gebou skuiling te soek nie, kan jy ook in ʼn voertuig sit met die vensters toe tot die donderstorm verby is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Diefie ·

Moet ook nie onder ‘n boom staan as daar donderweer is nie en ook nie naby ‘n staalkonstruksie nie. Bly ook uit water. En weereens moet ons leer om die natuur en sy dinge te respekteer.

IK ·

Sterkte vir die naasbestaandes. Hierdie storm het a.g.v. die droogte ook gepaard gegaan met ‘n verskriklike stofwolk oor ‘n groot gebied. Dit is van die uiterste belang om basiese kennis van noodhulp te hê. Bly ook weg van skuiling te soek onder bome en indien jy op ‘n staproete is moet daar van hoë gedeeltes weg beweeg word.
Ek wens net ek kon die gevaar van weerlig in my honde se koppe inprent. Hulle is nou al so geleerd dat met die blits staan hulle reeds reg om te storm en te blaf. Dieselfde gebeur met klappers skiet. Selfs die enetjie wat bang was is ook nou vol bravade. Soms wonder ek of sulke honde nie gebruik kan word om ander honde se vrese te help oorkom?

K ·

Jy kan tot kilometers ver getref word deur weerlig, al is dit mooi buite, al is dit sonskyn en jy sien die storm weg beweeg, kan self 8km ver nogsteeds jou tref. Respekteer die natuur en gebruik net tog so bietjie commonsense.

SjN ·

Tragiese geval, wat het geword van die verslag wat die regering die tyd geloods het om die oorsaak van weerlig te ondersoek?

Hennie ·

Die oumense het ook geglo dat groot spieels in die huis met komberse toegegooi moet word om te keer vir weerlig weerkaatsings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.