Man doen hom voor as oogkundige

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

’n Man is by ’n praktyk oorkant die verkeerskantoor in Kagiso in die omgewing van Krugersdorp in hegtenis geneem nadat hy hom glo as ʼn oogkundige voorgedoen het.

Die man, wat nie ʼn gekwalifiseerde oogkundige is nie en dus ook nie by die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) geregistreer is nie, het glo onder iemand anders se naam wat wel by die raad geregistreer is, oogtoetse vir bestuurslisensies uitgevoer.

Priscilla Sekhonyana, woordvoerder van die RGB, sê Thabang Thelonius Mohapi het onder Mashile Jacob Gole se naam by dié se praktyk oogtoetse gedoen, terwyl Gole by sy ander praktyk in die omgewing van Westonaria gewerk het.

Gole het na bewering voorafgetekende oningevulde oogtoetssertifikate aan Mohapi gegee om na die oogtoets in te vul.

Dit is ook vasgestel dat Mohapi sedert die begin van Oktober verlede jaar, toe die Kagiso-praktyk sy deure oopgemaak het, ongeveer 1 500 oogtoetse teen R150 stuk uitgevoer het. Dit kom neer op ʼn bedrag  van ongeveer R225 000 waarvan Gole die helfte met Mohapi sou deel.

Gole en Mohapi is albei op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem. Mohapi word ook aangekla van die oortreding van artikel 17(1)(a) van die Wet op Gesondheidsberoepe (Wet 56 van 1974), wat kragtens artikel 17(5) ’n strafregtelike oortreding is aangesien hy as oogkundige gepraktiseer het terwyl hy nie by die RGB geregistreer is nie.

Albei sou na verwagting vandag in die Kagiso-landdroshof verskyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos ·

Na gisteraand se SONA sal ek Ramaphosa aanbeveel om hierdie “oogkundige” te gaan sien.

Dries ·

Ek twyfel of ander lande ook soveel skelm bewoners as ons het.

Hennie J ·

Nou verneem ek dat die anc vir die Mohapi n pos aangebied het om die oe te toets van parlementslede belas met oorsig werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.