Man dood aangetref in JHB-swembad

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man, vermoedelik in sy 20’s, is Sondagaand laat dood aangetref in ʼn swembad in ʼn bekende vermaaklikheidsgebied in Cosmo City, Gauteng.

“Paramedici is net voor middernag na die toneel in Suid-Afrikarylaan ontbied,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Toe paramedici by die toneel opgedaag het, het omstanders KPR op die man toegepas nadat hulle hom uit die swembad gehaal het.”

Die omstanders het aan paramedici verduidelik hulle het gesien die man dryf in die swembad. Hulle het hom dadelik uitgehaal. Toe hulle sien hy het nie ʼn pols nie en haal nie asem nie, het hulle dadelik die ambulans ontbied en met KPR begin. ʼn Beampte by die ER24-nooddienssentrum het telefonies bystand gelewer totdat paramedici by die toneel opgedaag het.

Daar was glo ʼn groep mense in die swembad en meeste van hulle het uitgeklim toe dit begin reën het. Toe sommige van hulle terugkeer, het hulle die man daarin sien dryf.

“Dit wil voorkom of die man ʼn ruk lank onder die water was,” het Vermaak bygevoeg. “Daar was ongelukkig niks wat paramedici verder vir hom kon doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Die polisie stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.