Man dood, een beseer tydens skietery by PTA-veiligheidskompleks

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man is dood en nog een beseer tydens ʼn vermeende gesinsonderonsie Maandagoggend by ʼn veiligheidskompleks in Rooihuiskraal-Noord in Centurion.

Sers. Ann Poortman, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê fyner detail, soos die slagoffers se ouderdomme en die motief vir die aanval, is in die stadium nog nie bekend nie. Die name van die slagoffers kan ook nie bekend gemaak word voordat die naasbestaandes in kennis gestel is nie.

Volgens Poortman het die voorval tussen 05:00 en 06:00 Maandagoggend by ʼn huis in ʼn veiligheidskompleks plaasgevind. “ʼn Man het by die huis opgedaag en ʼn vrou, vermoedelik sy voormalige vrou of vriendin, en ʼn ander man wat saam met haar in die huis se oprit gestaan het, met ʼn vuurwapen gekonfronteer. Die man het die ander man geskiet en hom gewond, waarna hy homself in die kop geskiet het.”

Die vermeende skieter is op die toneel dood. Die ander man is na wat verneem word in ʼn kritieke toestand na die Kalafong-hospitaal geneem. Die vrou is getraumatiseerd, maar ongedeerd.

“Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen en ondersoek ook ʼn saak van poging tot moord,” het Poortman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

Hoe ondersoek jy ‘n saak van moord as die skieter oorlede is. Dis vermorsing van tyd en geld.

Dave ·

Ag toe nou PJ. Probeer tog net effens meer wakker wees. Of wil jy nou hê die polisieman moet sê die skuldige is dood so sluit die lêer. Ek dink regtig dit is moeite werd om te probeer verduidelik nie.

Dirk ·

Dit is ‘n regverdige vraag as dit kom van Jan Publiek.

In die geval sal ‘n moorddossier ondersoek word vir die dood van die slagoffer teen wie die aanval gerig was.

Daar sal ‘n Geregtelike Ondersoek dossier geopen word vir die selfdoding van die skieter. Beide dossiere word op die selfde beginsels ondersoek en na afhandeling van die ondersoek aan ‘n landdros voorgelê vir ‘n formele of informele ondersoek na die dood van beide persone.

Alhoewel die skieter dood is moet dit steeds bewys word dat sy handeling wel die dood van die slagoffer veroorsaak het en alle ander moontlikhede uitgeskakel is. So ook met die selfdoding moet alle ander moontlikhede uitgesluit word. As dit nie gebeur nie loop daar iewers ‘n moordenaar rond wat die toneel gekook het om soos ‘n moord en selfmoord te lyk.

Dit is maar standaard prosedure by wet voorgeskryf.

Lindie Lourens ·

Dave, ja, ek stem saam met PJ. Waarom geld mors. Wie gaan baat by die uitslag?

Stokkies ·

Ek dink Dave moet dalk maar verduidelik want ek stem ook saam met PJ.

Delia ·

Hoe lekker lag ek nou……..ek dink Dave is bang as hulle nie ondersoek nie, mis hy uit op al die skinder stories….

Yvonne MacKenzie ·

Dit is soos wanneer iemand voor die hof verskyn op twee klagtes en dan op altwee klagtes. Ontvang twee vonisse en dan se hulle “sentences will run concurrently”. Geld en tyd mors.

Meneer ·

Ek stem saam met Dave. Alhoewel die skuldige nie vervolg kan word nie, maak dit sin om vas te stel wat aanleiding gegee het tot hierdie voorval. Ek dink nie dis geld- of tyd mors nie.

Boeta ·

Dit is nie lekker om so wakker te word nie. Dit is traumaties vir almal wat daar bly want ons probeer mekaar help en ondersteun. Wat ek wel kan se, die Polisie het regtig lank gevat om uit te kom. Die ondersoek is net om te bepaal of iemand anders nie geskiet het nie.

Carl ·

Daar is verskeie redes, o.a
*die persoon wat oorlede is moontlik vermoor, en die ander 2 sê net hy’t selfmoord gepleeg. Alles in die media berig is nie die waarheid nie. ;)
*Die versekering sal ‘n verklaring van die SAPS benodig so ook die Binnelandse Sake kantoor.
* Alle strafregtelike sake moet deur SAPS ondersoek word.

Drieks ·

PJ en Dirk, dankie, ons leer so op die forum, want soms is goed vir ons onbenullig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.