Man dood ná gaslekkasie by Natref-raffinadery

Natref-raffinadery (Foto: Entrepreneur Zone, Twitter)

ʼn 40-jarige man is Donderdag deur gaswalms oorweldig nadat ʼn gaslekkasie by die Natref-raffinadery in Sasolburg, Vrystaat, ontstaan het. Die raffinadery moes onmiddellik ontruim word.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê die lekkasie in die gasleiding het omstreeks 04:50 by die hidrokraker-aanleg by die raffinadery ontstaan, waarna al die werknemers die perseel so vinnig as moontlik moes ontruim.

“Daar was in daardie stadium drie werknemers wat aan ʼn gasleiding gewerk het. Een van dié werknemers het te veel gas ingeasem. Paramedici het hom op die toneel behandel, maar hy het weens die gas wat hy ingeasem het, beswyk. Die ander twee werknemers kon betyds gered word,” sê Mbambo.

Matebello Motloung, woordvoerder van Sasol, het die voorval bevestig en sê die polisie en nooddienste is dadelik na die raffinadery ontbied.

“Die polisie ondersoek tans die oorsaak van die gaslekkasie,” sê Motloung.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.