Man dood ná hy van polisie probeer vlug

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn 30-jarige man het homself glo doodgeskiet toe die Gautengse polisie hom agternagesit het nadat hy  ʼn senior speurder geskiet het.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het Woensdag in die vroeë oggendure in Bram Fischerville in Soweto plaasgevind.

“Speurders verbonde aan die provinsiale ondersoekeenheid het leidrade opgevolg oor die verdagte wat gesoek is vir moord, poging tot moord en ʼn sakeroof,” het Dlamini gesê.

“Die verdagte was glo deel van ʼn groep van nagenoeg 25 mans wat op 29 Mei die takbestuurders van ʼn Shoprite-winkel tydens ʼn gewapende roof doodgeskiet het. Die bende het in twee minibusse van die toneel gevlug nadat hulle die winkel, werkers en klante beroof het. Die takbestuurder is op die toneel dood en nog ʼn slagoffer moes na ʼn hospitaal geneem word vir behandeling.”

Volgens Dlamini is verskeie skote afgevuur toe die ondersoekspan Woensdagoggend by die huis opgedaag het waar die verdagte geskuil het. ʼn 48-jarige speurder is tydens die skietery in sy onderlyf gewond.

“Die verdagte het op die vlug geslaan en die polisie het hom agternagesit om hom in hegtenis te neem. Hy is later in ʼn oop spasie gevind waar hy homself glo geskiet het.” Die polisie het ʼn ongelisensieerde vuurwapen naby die verdagte gevind en daarop beslag gelê.

Die gewonde polisiebeampte is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek en ondersoek ʼn saak van poging tot moord.

Intussen duur die soektog voort na die res van die verdagtes wat op die Shoprite-winkel toegeslaan het. Mense met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Hoe het die rower geweet watter een is die senior speurder?

Mrs.B ·

Hulle ondersoek ‘n saak van poging tot moord, teen wie sal die saak wees as die rower dan dood is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.