Man dood ná inhegtenisneming

(Argieffoto: SA Polisie)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal ondersoek instel na ʼn man se dood Woensdag in Ulundi, KwaZulu-Natal,  vermoedelik as gevolg van polisie-optrede.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, sê die polisie het na bewering die man opgespoor nadat hulle inligting ontvang het dat hy in besit van ʼn onwettige vuurwapen is.

“Die man was glo by sy vriendin se huis toe die polisie daar aankom en ʼn vuurwapen van hom eis. Die man het glo ontken dat hy ʼn vuurwapen in sy besit gehad het,” sê Cola. “Die polisiebeamptes het hulle daarna saam met die man in ʼn slaapkamer toegesluit.

Volgens Opod is gille uit die vertrek gehoor

Die polisie het kort daarna met die geboeide man weggery en glo nie gesê waarheen hulle hom neem nie.

“Die man het na bewering later alleen by die huis opgedaag. Hy was in ʼn vreeslike toestand en het bloed gebraak. Nadat besef is dat sy toestand aanhou versleg, is hy na ʼn plaaslike kliniek vir mediese sorg geneem.”

Die kliniek het die man na die hospitaal oorgeplaas waar hy dood is.

Opod het ná die man se dood met ʼn ondersoek begin.

Volgens Opod is die situasie plofbaar nadat inwoners begin betoog het teen die beweerde buitensporige gebruik van geweld deur die polisie. Hulle eis streng optrede teen die betrokke beamptes.

“Opod-beamptes sal wag tot die situasie bedaar sodat hulle die getuies kan besoek om verklarings af te neem.”

Die nadoodse ondersoek sal na verwagting Dinsdag in KwaNongoma gedoen word.

“Opod sal teenwoordig wees wanneer die nadoodse ondersoek gedoen word en die nodige inligting sal as bewyse ingesamel word wat die direktoraat se optrede en aanbevelings sal rig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danny ·

Owerhede – spel net korrupsie en magsdronkheid. Geen reg of geregtigheid geskied meer nie. Bring terug die ou SA!

Michael ·

Ek wil met jou saamstem, maar moet nie dink die ‘ou’ polisie het mense met handskoentjies behandel nie.

LANA is ELANè ·

Ek is doodbang vir SAPD lede en vertrou die Suid Afrikaanse polisie nie ‘n aks nie. Hulle is hul eie mafia wat beheer word deur ene mnr Cele erg vreesaanjaend en intimiderend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.