ʼn Vragmotorbestuurder (50) is Maandag in Pinetown in KwaZulu-Natal dood toe sy vragmotor ná ʼn ongeluk buite beheer geraak het.
Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, sê die vragmotor was net na 19:30 by ʼn verkeerslig in Stapletonstraat in Pinetown met vier ander voertuie in ʼn botsing betrokke.
Die vragmotorbestuurder het na die botsing uit die vragmotor geklim om met metropolisiebeamptes op die toneel te praat.
“Die bestuurder wou daarna weer in die vragmotor klim toe dit skielik aan die loop gegaan en vorentoe beweeg het,” volgens Leon Fourie, woordvoerder van die Life Response-nooddiens. “Die vragmotor het al hoe vinniger begin beweeg en voertuie wat in die pad gestaan het, weggedruk.”
Die vragmotorbestuurder het probeer om terug in die vragmotor te spring en die voertuig te stop, maar het in die proses geval en sy kop teen die teerpad gestamp. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die vragmotor het intussen teen ʼn wal afgery en teen ʼn huis tot stilstand gekom. Groot skade is aan die huis en twee voertuie wat op die erf gestaan het, aangerig.”
Niemand anders is in die voorval beseer nie.
McKenzie sê die omstandighede wat tot die ongeluk aanleiding gegee het, is nog nie bekend nie. Die polisie en metropolisie was op die toneel om ondersoek in te stel.
Truck crashes into multiple vehicles: Stapleton Road Pinetown KZN near Engen Garage. pic.twitter.com/a9hpvTd12t
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) September 28, 2020
Ai dis bitter hartseer. Mense moet asb nou nie weer begin om lorries of lorrie drywers te stenig nie. Dit kon n gewone voertuig ook gewees het wat hierdie gebeure kon veroorsaak het. Sterkte aan die drywer se gesin.
Lorries is ook gewone voertuie.
Ek stem saam jou RS. Dit klink of die arme man probeer het om die ding te stop. Dis baie hartseer. Die eienaars van die trokke moet hul trokke gereeld diens om so iets te voorkom. Daar het die arme man nou met sy lewe geboed en baie skade is aan ander voertuie aangerig wat daai eienaar nou baie meer gaan kos as wat ‘n diens sou kos (dink ek). Baie sterkte aan die drywer se gesin, ons bid vir julle.
Nou stenig ons maar die lorrie eienaars. Wie se die lorrie was nie gediens nie? hy kon sy remme in die ongeluk beskadig het, en dalk die trok afgeskakel het voor hy uitklim
Ja dis tragies