Man dood toe BMW in rivier beland

Die bestuurder se liggaam het op onverklaarbare wyse op ʼn sementpaadjie langs die rivier beland (Foto: Port Elizabeth Traffic Update, Facebook)

ʼn 47-jarige man is dood nadat hy Dinsdag vroegoggend beheer oor sy motor verloor en dié in die Swartkopsrivier in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap beland het.

Volgens die polisie het die motor deur padversperrings langs ʼn brug oor die rivier gery en in die water beland.

Die polisie het die man, geïdentifiseer as Kayalethu Kabane, se liggaam op ʼn sementpaadjie langs die rivier gevind. Dit is in dié stadium nie duidelik hoe sy liggaam daar beland het nie.

Kabane het glo beheer oor sy swart BMW verloor en teen ʼn padversperring gebots (Foto: Port Elizabeth Traffic Update, Facebook)

Volgens kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 00:20 op die N2 by die Swartkopsriviermondbrug by Blue Water Bay plaasgevind.

“Kabane het glo beheer oor sy swart BMW verloor en teen ʼn padversperring gebots.” Die voertuig is dwars deur die padversperring en het in die rivier beland.

“Die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, word nog ondersoek.”

Volgens Swart ondersoek die polisie ʼn saak van strafbare manslag. “Dit is die standaardklag as iemand op onnatuurlike wyse sterf.”

Kabane se familie is intussen van sy dood in kennis gestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willem ·

Ry alweer wanneer hy nie mag. 9 tot 4 saans is nie rondry tyd

Tipper ·

As jy nie gehoorsaam gaan wees nie meneer gaan jy (Beheer) verloor.

Jeffrey ·

Baie mense het wel permitte om daardie tyd te mag rondry agv van hul werk….Hospitaal personeel, Polisie, nooddienswerkers, eskom werkers ens.

JM ·

Midde-in die aandkloktyd, maar waarom sal ons luister? Gehoorsaamheid is nie baie se sterk punt nie.

Misky ·

Dankie Kokerboom, ek het die lag nou nodig gehad!!! Ek sukkel nogself by tye en kan nie aan die naam idee gewoond raak nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.