’n Man (45) van Bloemfontein is Sondagmiddag dood toe ’n aankomende lokomotief sy bakkie op ’n spoorwegoorgang naby die stad getref het.
Die voorval het omstreeks 15:10 by die Marius-spooroorgang op Ferreira plaasgevind.
Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die drywer van die lokomotief was met goedere van Springfontein na Bloemfontein onderweg toe hy ’n wit Ford Ranger die spooroorgang van die regterkant teen ’n hoë spoed sien nader het.
Volgens Makhele het die drywer van die lokomotief getoet om die bestuurder van die bakkie te waarsku dat hy ʼn oorgang nader. Die bakkie het egter nie by die oorgang gestop nie en die lokomotief het die voertuig aan die linkerkant getref en sowat 50 meter verder gesleep.
Die bestuurder van die bakkie is op slag dood.
Jaco Kaalsen, paramedikus by Med24/7 in Bloemfontein, sê paramedici het met hul aankoms op die toneel die bakkie langs die treinspoor aangetref. Die lokomotief het nie ver daarvandaan tot stilstand gekom nie.
Die plaaslike brandweer en reddingsdienste moes meganiese toerusting gebruik om die bestuurder van die bakkie uit die wrak te bevry voordat die toneel aan die polisie oorgegee is vir verdere ondersoek.
Makhele sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
ai hoe tragies mense besef nie ‘n trok en ‘n trein kan nie soos ‘n voortuig net dadelik doodstop nie sterkte aan die familie maar ook die trein drywer! om met so iets saam te leef sjhoe kan my nie indink nie, want jy weet al rem jy ook hoe hard dit gaan nie ‘n verskil maak nie
Strafbare manslag? Wat moes die treindrywer doen?
Rus sag Gerrie. Simpatie aan sy gesin en familie. Baie sterkte vir julle in hierdie hartseer tyd.
Hoop regtig nie die SAPD kla die treindrywer aan nie. Ek weet hy kon betyds gestop het met n 300000 ton trein of uitgeswaai het en die bakkie gemis het. Sterkte aan Gerrie se familie RIV.
Dis sinneloos om die trein drywer vir strafbare manslag aan te gee/hou… Jy stop nie n trein soos n kar nie.. Weereens het iemand nie mooi gedink nie en met sy lewe geboet. Maar tog – sterkte vir sy gesin en familie