Man dood tydens skietgeveg met polisie

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

ʼn Rusie tussen ʼn Virginia-egpaar het Sondag op dramatiese wyse geëindig toe die man tydens ʼn oor-en-weer-skietery met die polisie doodgeskiet is.

Lt. Malebo Khosana, woordvoerder van die Vrystaat-polisie, het gesê die voorval het omstreeks 11:30 in Unionstraat gebeur. “Die egpaar het glo in hulle motor gestry en die vrou het uitgeklim en na die naaste polisiestasie gestap om hulp te kry,” het Khosana gesê.

Volgens Khosana is polisiebeamptes na die toneel waar hulle die man, Mojalefa Albert Khantsi (49), in die motor aangetref het. Hulle het hom gevra om uit te klim, maar hy het geweier. Kort daarna het hulle besef dat Khantsi ʼn vuurwapen by hom het. Hulle het hom gevra om dit te oorhandig, maar hy het weereens geweier.

“Terwyl die polisiebeamptes nog met die man probeer praat het, het hy op hulle losgebrand,” het Khosana gesê. “Die beamptes het teruggeskiet en Khantsi is in die kop gewond. Hy is op die toneel dood.”

Intussen is konst. Arno Cronjé vier keer in sy hand en bene raakgeskiet, het Khosana gesê. Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas waar hy steeds behandel word. Volgens Khosana was die egpaar se tienerdogter ook op die toneel en het die hele voorval aanskou. Sy is egter ongedeerd.

Die saak is na die onafhanklike polisiedirektoraat (Ipid) verwys wat dit verder sal ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris W ·

Baie knap gedaan SAP!Dit moet julle meer male doen!!Ons bede gaan uit na konstabel Cronje’ wat gewond is in die voorval.Mag hy spoedig EN volkome herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.