Man doodgery toe voertuig onklaar raak

(Foto: Rescue Care)

ʼn Man is dood toe die voertuig waarin hy gereis het Saterdagaand op die N2-snelweg in Durban onklaar geraak en ʼn aankomende voertuig hom getref het toe hy uitklim.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care-paramedici, was omstreeks 22:15 op die ongelukstoneel op die N2 Suid net voor die M1 Higginson-afrit.

Volgens Jamieson het die voertuig onklaar geraak en op die snelweg tot stilstand gekom, waarna ʼn passasier in die voertuig uitgeklim het. ʼn Tweede voertuig het van agter teen die man en die stilstaande voertuig vasgejaag.

(Foto: Rescue Care)

“Die passasier is getref en is meters ver van die ongelukstoneel geslinger. Hy het veelvuldige en ernstige beserings opgedoen en daar was niks wat vir hom gedoen kon word nie. Hy is dood verklaar,” het hy gesê.

Volgens Jamieson is nog drie beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na verskillende hospitale in Durban geneem is. Dit was nie onmiddellik bekend hoe ernstig hulle beseer is nie.

Polisiebeamptes was op die toneel en sal die voorval verder ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan ·

Ai! Dis so hartseer.

Dis bitter selde dat ‘n kar sommer net breek. Hy gee kennis. Om dan in die middel van die pad te gaan staan is maar net moeilikheid soek.

Kry jou voertuig, jouself en jou passasiers uit die pad uit.

Stuiwer ·

Jan, niemand weet presies wat veroorsaak het dat die kar tot stilstand gekom het nie. Miskien wou die passasier help om die kar uit die pad te kry en het toe uitgeklim. Die kar wat in hulle ingery het, kon dalk te vining gery nie? Dis blote spekulasie. Hoe dit ook al sy, dis verskriklik! Ek haal my hoed af vir die nooddienste. Ek sal nie hulle werk wil hê nie.

? leser ·

tragies, om die foto van die wit motor te sien, was die spoed hoog en impak erg

Cherokee ·

M4 en N2, waarskynlik M4 Suid net voor die Higginson Afrit.

Mariné Lourens ·

Dagsê Cherokee

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Cherokee ·

Dankie vir jou terugvoer, Mariné. Eintlik ‘n kleinigheid wat so maklik gebeur.
En die M en N is langs mekaar op die sleutelbord.

GM ·

Ai, dis so onnodig. ‘n Motor gaan staan nie net nie, hoekom nie in noodbaan gaan ry as jy probleme begin ervaar nie? Of is die noodbane daar ook so min en dun soos hier in GP?
Sterkte aan die persoon se naasbestaandes.

Susan ·

Noodbaan is al vir jare nie n noodbaan nie, hulle sal jou daar ook raak ry, hul flits dan ligte dat jy in die noodbaan moet beweeg as jy net 120 ry en hulle ry 130/140, geen wet en orde word meer toegepas nie en geen een het respek vir die spoedgrens nie. Kyk daai man en kinders wat hulle selfs langs die pad dood gery het. Jy is nêrens veilig nie, nie op of langs die pad of in n noodbaan nie.

GM ·

Toemaar, ek sien die noodbaan is vir ‘n fiets ontwerp. Hoe maak nooddienste as hul by ‘n ongelukstoneel moet uitkom as daar nie eers op ons land se paaie plek gemaak word vir noodbane nie? Die mense kan net nie dink nie.

Nettie ·

Was die wit motor se “hazard lights” aangeskakel? Het die bestuurder van die voertuig genoeg moeite gedoen om die motor behoorlik uit die pad of in die noodbaan (as daar een is) of op die skouer van die pad af te trek? Te oordeel aan die skade aan die agterkant van die voertuig, het die ander voertuig die stilstaande een teen ‘n redelike spoed getref.

@Susan, terloops – dit is teen die wet om die geel lyn te kruis as jy ry – hier in die Wes-Kaap word ons paaie darem nog geredelik in stand gehou, so ons noodbane is darem nog daar. En waar daar ‘n ROOI streep is, beteken dit GEEEEEEEEEN stilhou/kruis nie – vir ‘n goeie rede, jou aap met die GP-registrasie.

EK WEIER om vir enige padVARK pad te gee, as hy/sy ligte vir my flits. Ek sal effe na links beweeg – maar NIE DIE GEEL LYN KRUIS NIE. En as jy op my wil “tail gate”, trap ek rem sodat jy jou alie moet afskrik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.