Man doodgeskok in Germiston

(Foto verskaf)

’n Man is Woensdagoggend doodgeskok toe hy met ’n hoëspanningkragkabel by die Germiston Lake-treinstasie in Ekurhuleni in Gauteng gepeuter het. Dit is die tweede soortgelyke skokvoorval wat in een week in dieselfde omgewing plaasgevind het.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, sê die nooddienste is Woensdag net ná 09:00 na die treinstasie ontbied. By die reddingwerkers se aankoms op die toneel het hulle die verkoolde liggaam van ʼn man aangetref waar hy steeds aan die kragkabels bokant die spoorlyn hang.

Die man het glo probeer om dié elektriese hoofkragkabel van 3 000 volt te knip.

Reddingswerkers het gereedskap om hom van die kabel los te knip onder tussen die spoorlyne aangetref.

Ntladi sê die elektrisiteitstroom moes eers geïsoleer word voordat hulle die verkoolde liggaam na benede kon bring.

Die man se ouderdom kon nog nie vasgestel word nie en ʼn nadoodse ondersoek word gedoen. Die polisie is na die toneel ontbied om ondersoek in te stel.

Ntladi sê die nooddienste het verlede week Dinsdag op nóg ’n verkoolde liggaam by ’n nabygeleë treinstasie in Germiston afgekom. Dié persoon het glo ook met die kragkabels by die treinstasie gepeuter en is ook doodgeskok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blikkantien

Tragies. Maar ongelukkig het ek nie baie simpatie met die persoon nie.

Yvonne

Tragies dat mense sulke gevaarlike toerusting trotseer