Man draai tweede keer by dood om toe buffel hom gaffel

Leon Jacobsz in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Dit gaan stukke beter met Leon Jacobsz (32), die man wat verlede naweek ernstig beseer is nadat hy deur ʼn buffel gegaffel is op ʼn plaas in die Wakkerstroom-omgewing in Mpumalanga.

Danie Jacobsz, Leon se broer, het Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê sy broer kon gister vir die eerste keer ʼn samehangende gesprek met hom voer oor die foon. Hy het vandag ook opgestaan ʼn klein entjie geloop en geëet.

“Die dokters is baie tevrede met sy vordering. Ons is net dankbaar, die grootste bekommernis is nou weg,” het Danie gesê.

Leon het Woensdagaand weer ʼn operasie ondergaan om die wond waar die buffel se horing in is skoon te maak. Sy lewer is tydens die voorval deur sy diafragma gedruk en hy moes Saterdagaand ʼn operasie ondergaan om dit na die normale posisie terug te skuif.

Dit is nie die eerste keer wat Leon en die familie erge trauma beleef nie.

Leon is in 2016 twee keer met ʼn mes gesteek – ook op ʼn plaas in Wakkerstroom. Brig. Selvy Mohlahla, woordvoerder van die polisie, het destyds aan Maroela Media gesê ʼn rusie het tussen Leon en die verdagte ontstaan en Leon is twee keer met ʼn mes gesteek.

Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem.

“Dit gee jou ʼn idee hoe erg dit vir ons almal is. Dokters het destyds gesê dis ʼn wonderwerk dat hy lewe – nes hierdie keer,” het Jacobsz gesê.

Maroela Media het vroeër berig die buffel het Leon, ʼn beroepsjagter wat in die wildbedryf werk, in sy sy gegaffel toe hy dié dier wou verdoof. Volgens Danie was daar werkers by wat die voorval sien gebeur het en daarin kon slaag om alarm te maak.

Leon word steeds in die hoësorgeenheid van die Alberton Uniehospitaal behandel, en die familie weet nog nie wanneer hy na ʼn gewone saal oorgeskuif sal word nie.

“Ons is baie dankbaar vir almal se gebede,” sê Danie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

net as ek lag ·

dankbaar vir jou 3de kans! dit lyk of jy sê ” dit pyn net as ek hard lag.”

Genoeg ·

Leon Jacobz, ek kan net dink hoe lief ons Hemelse Vader jou het, om jou 2 maal van ‘n gewisse dood te red. Sterkte met die herstel proses en moet nooit ophou om van Jesus se wonderdade te getuig nie.

CZ ·

Dus as jy geen kans gegee word het Ons Hemelse Vader jou nie lief nie ??

Alida ·

Sterkte en gesond word. Word wilde diere nie gepyl nie? Dan hoef mens mos nie so naby die dier te kom nie. Ek vra maar net.

Buffel biltong ·

Miskien moet Leon n bietjie verder staan volgende keer as hy diere wil verdoof. Sterkte.

Cherokee ·

Verdagte sê julle, Maroela. So dan is hy na twee jaar nog nie skuldig bevind nie, is die afleiding.

Cherokee ·

Ek vra weer, hy is met mes gesteek in 2016 deur ‘n ‘verdagte’. Die afleiding is dus dat die ‘verdagte’ steeds nie skuldig bevind is nie, ten spyte daarvan dat hy op die toneel in hegtenis geneem is. Vir sommige van my kommentare, soos hierdie, deins MM terug en plaas dit nie. Verdagte, sê julle.

Nads ·

@Cherokee – Ek weet hoe jy voel… ek kan dit net so haat as my goed nie geplaas word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.