Man eis miljoene nadat wagte hom glo met ‘rower’ verwar

Brian in die hospitaal na die aanval. Foto: Verskaf

Brian in die hospitaal na die aanval. Foto: Verskaf

Brian Barnard, ʼn 22-jarige man van Johannesburg, het hom nou tot die hooggeregshof in Pretoria gewend nadat hy erg deur veiligheidswagte aangerand is toe hulle hom glo met ʼn vermeende rower verwar het.

Op 15 November 2013 is Barnard, toe 20 jaar oud, se wangbeen vergruis, sy oog oopgeslaan en ʼn stuk van sy neus afgeslaan deur veiligheidswagte by ʼn kuierplek in Witrivier, Mpumalanga. Sy nefie moes die volgende dag ʼn stuk van sy neus in die parkeerterrein van die kuierplek gaan optel.

Elsabé Barnard, Brian se ma, het aan Maroela Media gesê haar seun het nou ʼn siviele eis van miljoene rande teen die veiligheidswagte ingestel na die voorval. Daarby word die wagte ook strafregtelik van aanranding aangekla, ʼn saak wat in die Witrivier-landdroshof aangehoor word.

“Brian moes alreeds drie operasies ondergaan, onder andere om ʼn plaat in sy wang te laat sit, en daar moet nóg operasies gedoen word,” het Elsabé gesê. “Sedert die aanrading ervaar hy baie probleme met sy sinusse en asemhaling en ʼn neuroloog moet hom evalueer.”

Volgens Elsabé het Brian en sy neef glo die aand in die kuierplek Bahati gaan kuier waar hulle met ʼn man, in sy laat dertigs, begin gesels het. Hulle het ʼn ruk lank met die man gekuier, toe veiligheidswagte skielik op hulle afstorm. Hulle het Brian hard teen die oog met ʼn vuurwapen geslaan.

“Hy het probeer om die aanranding te stop en wou weet wat gaan aan, maar hulle het hom net weer met die vuurwapen deur sy gesig geslaan,” het Elsabé gesê.

Brian op 'n onlangse foto.

Brian op ‘n onlangse foto.


Brian het sy bewussyn verloor en is glo deur die veiligheidswagte uit die kroeg gesleep. Hulle het hom buite weer met die vuurwapen geslaan en ʼn stuk van sy neus is afgeskeur. Die wagte het hom glo ook gewurg terwyl hy op die grond gelê het.

“Die man wat saam met hulle gekuier het, het vir die veiligheidswagte en die polisie, wat buite gestaan het, gesê hy het Brian en sy neef eers die aand daar ontmoet en dat hulle nie saam met hom daar aangekom het nie. Die polisie is toe met hom [die onbekende man] in ʼn vangwa daar weg,” het Elsabé gesê.

Dit het later aan die lig gekom dat die onbekende man glo vroeër die aand by ʼn rooftog betrokke was en die polisie het hom by die kuierplek opgespoor, het Elsabé bygevoeg. Hulle het aan die veiligheidsbeamptes gesê om die man uit die kuierplek te gaan haal en die wagte het Brian glo met die man verwar en hom bygedam.

Volgens Elsabé het die polisie en die veiligheidswagte Brian net so bewusteloos in die parkeerterrein gelos en sy neef en tannie moes met hom hospitaal toe jaag. Brian moet nou tussen Johannesburg en Witrivier reis om die onderskeie hofsake by te woon.

“Ons eis is teen die veiligheidswagte én die polisie, want die polisiebeamptes moes oorgeneem het by die veiligheidswagte en self die situasie hanteer het. Hulle het gesien hoe word my seun aangerand en hulle het niks gedoen nie,” het Elsabé gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann Marx ·

Ouch. Nog ‘n paar miljoen van ons belasting wat deur die “polisie” aangewend word om skadevergoeding te betaal….Ek sou ook seker in so geval ‘n eis ingestel het, maar dink daaroor….waar kry die “polisie” ‘n paar miljoen (en dis maar ‘n klein gedeelte van die baie miljoene wat hulle so moet uitbetaal elke keer as hulle pak slae kry oor hulle onvermoë en vergrype) om hierdie eise mee uit te betaal? Nie uit “bribes” nie…..uit my en jou se sakke.

Dave ·

Johann, ek is lànkal verby die stadium wat ek komkommer oor dìt wat jou pla. Óns belasting noem jy dit. As hulle nie omkoopgeld daarmee betaal nie, dan word Nkandlas daarmee gebou of onbevoegde senior amptenare ontvang ‘goue handdrukke’ as omkoopgeld om af te tree. Andersins gebruik Zuma meer as een straler op een van sy vele oorsese reise of ander regeringsamptenare rits oorsee en koop oorsee daarmee. So, ek het geen slapelose nagte daaroor. Suid Afrika gaan bankrot verklaar word êrens langs die pad (Eskom is bloot die beginpunt wat opgevolg word met water-dramas) en ek hoop om dan elders te woon en dit van daar gade te slaan.

Tammy ·

Ag neewat, ek voel n veer vir ons polisie. Hulle het personeel wat self met n rekord of twee loop en daar word daagliks nog kriminele in diens geneem om die demografie reg te kry. Hierdie mense moet liewers kyk of hulle nie die eis nog groter kan maak nie. Basta met die belastingbetaler, wat nie gevat word nie kan net dalk na Zumpie se landgoed van goud toe gaan!!!!

Dave ·

Waarom word Zuma in so baie kommentare bespreek as ‘Zumpie’ en Malema word genoem ‘Jonas’ of is dit ‘Julius’ of so iets? Waarom hulle liefdevolle bynaampies gee asof hulle persoonlike vriende is? Dit is bloo zuma, malema & kie met kleinletters.

Magda Blom ·

Baie, baie sterkte met jou herstel Brian en ek ondersteun volkome jou eis teen wie jy dit ingestel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.