Man én aanvaller sterf in aanval

Argieffoto: Lorraine Claasen

Terwyl duisende mense Maandag paaie reg oor die land versper het uit protes teen plaasmoorde, is ʼn bejaarde man vanoggend in ʼn landelike gebied in die Vryheid-omgewing in KwaZulu-Natal vermoor.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 73-jarige man is omstreeks 10:00 deur ʼn aanvaller oorval terwyl hy besig was om ʼn hoenderhok te bou. Die verdagte het die man met ʼn mes aangeval, verskeie kere gesteek en hom in sy Ford Bantam-bakkie ingedwing.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Maroela Media gesê daar word vermoed dat die man nog gelewe het toe hy kop na onder in die bakkie in gedruk is. Volgens Cameron is die vermoede dat die man in die voertuig doodgebloei het.

Die aanvaller het van die toneel weggejaag, maar het nie ver daarvandaan nie teen ʼn kragpaal gebots. Volgens Cameron het werkers van ʼn naburige plaas die botsing sien gebeur en die aanvaller op die toneel vasgetrek. Die aanvaller het egter op die toneel gesterf.

“Die slagoffer [van die aanval] is nie ʼn boer nie en die voorval hou nie met plaasaanvalle verband nie,” het Gwala gesê. Sy het verduidelik die voorval het in ʼn landelike gebied gebeur, maar nie op ʼn kommersiële plaas nie. Sy het gesê die man het alleen in ʼn huis gewoon met ander gemeenskapslede wat in huise om hom gewoon het.

Cameron het egter gesê die aanval val wel onder die definisie van ʼn plaasaanval. “Die polisie is verkeerd. Dit is definitief ʼn plaasmoord, ongeag of hy ʼn boer is of nie. Wanneer iemand vermoor word op ʼn plaas, tel dit as ʼn plaasmoord.”

Cameron het die slagoffer as Bokkie Potgieter geïdentifiseer. Hy het gesê die verdagte was ʼn bekende misdadiger in die omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.