Man en oom skuldig aan moord op skrywer

Winnie Rust.

ʼn Man en sy oom is Maandagmiddag skuldig bevind aan die moord op die bekende skrywer, Winnie Rust (77), wat in Mei verlede jaar in haar huis in Wellington in die Wes-Kaap vermoor is.

Nigel Plaatjies (19) is in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan aanklagte van moord, roof, poging tot brandstigting, diefstal en vier aanklagte van bedrog. Nigel se oom, Johannes Plaatjies (35), is op dieselfde aanklagte skuldig bevind.

Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die saak is tot 5 Februarie 2018 uitgestel wanneer vonnisverrigtinge sal begin. “Die staat is van voorneme om drie getuies te roep om as deel van die vonnisverrigtinge te getuig. Beskuldigde nommer 2 [Johannes] het aangedui hy sal voor die vonnis getuig, terwyl beskuldigde nommer 1 [Nigel] versoek het dat ʼn verslag deur ʼn proefbeampte saamgestel word,” het Ntabazalila gesê.

Maroela Media het vroeër berig Rust se liggaam is op 11 Mei 2016 deur haar man, dr. Manie Rust (84), in hul huis in Wellington gevind. Haar hande en voete was vasgebind en sy het beserings aan haar gesig gehad. Nigel en Johannes het ook ʼn kers langs ʼn oop gasstoof in die huis gelaat.

Rust was internasionaal bekend vir haar skryfwerk. Sy is in 2005 vir die Jan Rabie-Rapport-prys benoem vir haar boek Martha – ʼn Verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford. Rust het, afgesien van haar man, ook drie dogters, ʼn seun en ses kleinkinders agtergelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genieve ·

Die vrou het Nigel met alles gehelp sy was soos n moeder vir hom.Hoe kon hy so iets doen??? Die regter moet hom straf want hyt geen verskoning vir wat hy gedoen het het nie. Sy was net goed vir hom.

Ek kook sommer al klaar ·

Dit wat hy gedoen het is wreed en onaanvaarbaar en sy Ma kan nou maar sê, ja maar die OOm, die lewe gaan oor keuses en die klein gemors het die goedheid van hierdie goeie eerbare mens misbruik en haar baie wreed en vreesaanjaend vooraf vermoor, daai kers en oop gasstoof is ook poging tot moord op die Oom wat lê en slaap het. Hy het geweet die OOm is doof, dit is uiters boos en proefbeampte as jy nou vir hom wil opkom is jy ook net so skuldig in die besluit om hierdie kosbare Tannie te vermoor.

Piet ·

Miskien moes sy beter oordeel gehad het toe sy die gekies het vir wie sy goed wil wees. Het ook al baie mense gesien wat slange en krokodille wil aanhou as troeteldiere. Niemand verdien so iets nie, maar dit help om nie met enige persoon te meng nie.

Bietjie rof ·

Jy is bietjie rof, ek stem saam mens kan nie net vir enige een gee, maar hierdie seun WAS ‘n goeie voorbeeld, ‘n top atleet in sy skool era en sy Ma werk vir die Tannie se dogter, so dit is darem nie heeltemal krokkedille en leeus aanhou nie. Hierdie seun het hom deur sy Oom se boosheid laat inpalm en lei en dit is waar hy nou is, ‘n geharde krimineel, pleks hy het aanhou hardloop het, sou hy beslis nie met verkeerde goed en verkeerde mense ‘n goeie kriminele rekord gebou het nie. Mag dit ‘n les wees vir alle ander talent volle jong mense wat kortpad na rykdom soek, jy bereik tronkdom.

Denise ·

Dit is waar haar probleem begin het sy het hom met alles gehelp en hy wou net meer en nog meer uit haar kry geen respek gehad vir die vrou nie haar net misbruik inplaas van dankbaar wees ken natuurlik nie die woord nie soos baie mense !!!!!!

Wys net ·

Dit wys net, al hierdie “quotes” wat sê, moenie voer, leer om self te voer anders skep jy ‘n tronkvoël is eintlik so waar. Ons geaardheid is maar net om te help om te verbeter, maar soos Denise sê, help en die vraag raak groter en die luiheid neem toe. Hier is huiswerkers wat in ellendige omstandighede werk, hul kla nie, want hul voel waardevol en kan vir hulself sorg, dit wys net, hoe minder sekere mense het hoe beter mense is hulle, maar as hulle net kry word hul moordenaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.