Man en seuns glo vergiftig

(Argieffoto: ER24)

ʼn Man en twee jong seuns is ernstig siek in die Albert Luthuli-hospitaal in Durban ná hulle Maandagoggend glo by ʼn huis in Inwabi in die Cele-gebied, KwaZulu-Natal, vergiftig is.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici van onderskeidelik ER24 en die Life Healthcare-groep is die oggend omstreeks 11:20 na die huis ontbied. Met paramedici se aankoms was daar reeds plaaslike owerhede op die toneel. Hulle kon toegang tot die huis verkry en paramedici dus inlaat.

Paramedici het die man en seuns, onderskeidelik vier en agt jaar oud, in die huis aangetref. Hulle het op die vloer gelê en op die oog af lewensloos voorgekom.

Meiring sê paramedici het die man en seuns na die ambulans geneem en begin behandel. Al drie was in ʼn kritieke toestand.

Die drie is per militêre mediese helikopter na die Albert Luthuli-hospitaal in Durban geneem vir verdere mediese behandeling.

Meiring sê inligting rakende die voorval is nog nie bekend nie. Polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hekwag ·

“militêre mediese helikopter” …nou toe nou, nie geweet ons het sulkes nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.