ʼn Man is erg aangerand en ʼn vrou glo herhaaldelik verkrag nadat ʼn lykswa Sondagaand aan die Oos-rand in Gauteng gekaap is.
Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), het gesê die gekaapte lykswa is vanoggend teruggevind, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volgens die polisie se voorlopige ondersoek is die bestuurder van die lykswa omstreeks 21:00 by die Umthambeka-gedeelte in Tembisa deur vier kapers oorval toe hy die hek by sy huis oopgemaak het. Die kapers het die man met ʼn pistool aangerand en gedreig en ure lank met hom in die gekaapte voertuig rondgery.
“Terwyl hulle rondgery het, het die kapers klaarblyklik ʼn saamrygeleentheid aan ʼn vrou gebied en daarna glo beurte geneem om haar in die lykswa te verkrag,” het Kgasago gesê.
“Die beseerde bestuurder is vanoggend in die vroeë oggendure in Entshonalanga langs die pad afgelaai waar gemeenskapslede hom gevind en gehelp het om ʼn saak by die polisie aanhangig te maak. Dit is nie bekend wat van die vrou geword het wat glo deur die kapers verkrag is nie en die polisie is besig om dit te ondersoek.”
Volgens Kgasago is die gekaapte lykswa omstreeks 05:00 deur middel van ʼn opsporingstoestel in Tembisa opgespoor. Die kapers het die voertuig in die Umthambeka-gedeelte agtergelaat en op die vlug geslaan.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Verskriklik. Ek hoop die vrou is nog lewend en dat sy sal herstel van haar beserings en hulp sal kry om haar te help herstel van die sielkundige impak van die verkragting.
Wie kaap ‘n lykswa (hearse)? En laai dan vroue op en verkrag hulle? Kan nie die duiwel blameer nie; kan nie apartheid blameer nie; kan nie enige ras blameer nie; kan nie sê dit is siek nie (want “siekte” is ‘n verskoning). Wat bly oor? Net jou eie gewete, mnr/mev/me die misdadiger. Jy alleen sal daarop antwoord, een of ander tyd.
Hierdie helhool laat Mad Max flieks na ‘n Sondagskoolpiekniek lyk.
Liewe Vader, die mense in ons mooi suiderland is siel en boos. Beskerm asb díé van ons wat nie heeltyd bose planne bedink om ander mense se lewens te verwoes nie. Díé van ons wat net n plekkie in die son wil hê om ons lewens klaar te leef.
‘Skuus dat ek vra – maar watter vrou (“in her real mind”) vra nou ook ‘n saamrygeleentheid by ‘n lykswa? ‘n Mens weet mos nooit of daar ‘n lyk agterin is nie!