Man erg beseer toe hy tiener uit see probeer red

‘n NSRI-reddingspan (Foto: NSRI, Facbook)

ʼn Jong man is ernstig beseer toe hy probeer het om ʼn 13-jarige meisie by Port Alfred uit die see te red. Die tiener, van Gqeberha (Port Elizabeth), is laat Sondagmiddag deur seestrome die see ingetrek en die 20-jarige man het haar te hulp gesnel. Die man woon in die omgewing van Port Alfred in die Oos-Kaap.

“Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) by Port Alfred het Sondag 17:21 gereageer op ʼn noodoproep. Op die toneel aangekom, was dit duidelik dat die jong man óók deur seestrome meegesleur is en hulp benodig het,” het Keryn van der Walt, woordvoerder van die NSRI by Port Alfred, gesê. Terwyl reddingspanne die man bygestaan het, kon familielede van die 13-jarige dit regkry om haar uit die see te haal.

“Op die strand het paramedici pulmonêre resussitasie op die tiener uitgevoer. Ondanks al hul pogings kon sy egter nie bygebring word nie en is dood verklaar,” het Van der Walt gesê.

Die 20-jarige is intussen met ʼn boot uit die see gered en ʼn paramedikus het sy wonde op die boot behandel.

“Hy is erg beseer en is op die strand deur paramedici gestabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is,” het Van der Walt gesê. “Hy sterk tans aan.”

Die polisie ondersoek die tiener se dood.

Polisieduikers is ook nog op soek na ʼn jong man wat op Nuwejaarsdag in die see naby Jeffreysbaai in die Oos-Kaap verdwyn het.

Die man het omtrent 14:00 Saterdag onder die water verdwyn, 800 m noord van Jeffreysbaai se hoofstrand. “Die NSRI het saam met nooddienste op die voorval gereageer en ʼn uitgebreide soektog na die man is begin,” het Paul van Jaarsveld, stasiebevelvoerder van die NSRI in Jeffreysbaai, gesê.

Die soektog is Sondag voortgesit, maar daar was teen Maandag nog geen teken van die man nie. “Ons dink aan die vermiste man se familie in hierdie moeilike tyd.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Petrus ·

Hoe is die jong man beseer? Seestrome kan jou laat verdink, maar dit is onduidelik hoe die beserings opgedoen is?

007 ·

Petrus, ek wonder ook. Is hy deur iets aangeval of was hy teen rotse of het sy toonnaels hom gesny? Baie swak beriggewing.

Lourens CFG ·

Ek was 12 toe ons Durban toe getrek het, en ek vir die eerste keer in die see kon swem.
Maar éérs het my pa my gewys hoe om te “float”, en gesê dat, as ek agterkom ek word ingetrek, moet ek NIE probeer uitswem nie maar om te “float”, en dan sal die see my weer kus toe bring.
Beste raad ooit, dit werk, ek was al agter die haai nette getrek, en weer uit.
(Ek moes nou wel amper 5km terugstap Brighton Beach toe, maar ek was lewendig)

Miskruier ·

Liefde so groot om jou eie lewe op te offer vir n ander. Word gou gesond jongman.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.