Man erken hy het student verkrag, vermoor

Precious Ramabulana (Foto: Facebook)

ʼn 29-jarige man het skuld beken vir die verkragting van en moord op ʼn 21-jarige student.

Aubrey Manaka se verhoor het Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, begin. Hy word ook van gewapende roof en huisbraak aangekla ná die moord op Precious Ramabulana.

Ramabulana is in November 2019 wreed vermoor. Sy was ʼn student aan die Capricorn TVET-kollege en het in haar huurkamer in Mokomene, noordoos van Polokwane, gelê en slaap toe sy aangeval is. Sy is verkrag en meer as 50 keer met ʼn mes gesteek.

Manaka is kort ná die moord by sy ouerhuis in Nyakeleng in Botlokwa in hegtenis geneem. Hy het tydens sy eerste hofverskyning besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie en was sedertdien in aanhouding.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het die polisie se ondersoek na die voorval ook aan die lig gebring dat Manaka glo in 2014 ʼn vierjarige meisie verkrag het. Die saak is egter destyds teruggetrek, maar volgens Malabi-Dzhangi is dit intussen weer ingestel.

Die saak gaan vandag voort met betoë wat gelewer sal word ter strafverswaring en ter strafversagting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.