Man ernstig beseer in brand by Dinokeng

Argieffoto

ʼn Man moes Donderdagmiddag met ernstige brandwonde per helikopter na ʼn hospitaal geneem word nadat hy in die Dinokeng-wildreservaat, noordoos van Pretoria, in ʼn veldbrand vasgekeer is.

Johan Botha, voorsitter van die Sinoville-brandbeskermingsvereniging, het aan Maroela Media gesê die man is ʼn vrywilliger wat met sy bakkie en ʼn brandbestrydingstenk agterop gehelp het om die brand te blus.

Volgens Botha het die pomp van die brandbestrydingstenk agterop die voertuig afgegaan en die man het uitgeklim om die pomp weer aan te skakel. “Op daardie oomblik het die wind gedraai en die man is in die vlamme vasgekeer. Ons lede het dadelik gejaag om hom en sy bakkie uit die vlamme te kry, maar hy het toe klaar baie erg gebrand,” het hy gesê.

Botha sê weens die ernstige aard van die man se brandwonde is ʼn mediese helikopter ontbied om hom na ʼn hospitaal te neem. “Dit is moeilik om nou die omvang van sy beserings te bevestig, maar die paramedici wat hier was, het gesê hy het tot 80% brandwonde opgedoen. Hy het baie, baie erg gebrand.”

Volgens Botha het die brand vermoedelik ontstaan toe iemand met ʼn hoekslyper gewerk en die veld vlam gevat het. Die brand het vinnig buite beheer geraak en hulp van die Cullinan-brandbeskermingsvereniging en die Sinoville-brandbeskermingsvereniging is ingeroep.

“Die brand is nou onder beheer. Ons het nog steeds voertuie op die toneel besig om vlamme te blus, maar dit is onder beheer,” het hy gesê. Hy sê daar is na raming ongeveer 250ha veld in die brand verwoes.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê talle brande het die afgelope weke in en om Pretoria voorgekom. “Die uiters winderige toestande wat ons tans ervaar, maak dat die veld maklik vlam vat en dat brande vinnig buite beheer raak,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Wil groot dank aan die Roodeplaat BBV ook wat gehelp het met die brand. Hulle het my huis beveilig en verder gaan help met die brand. Uitstekende span mense

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.