Man ernstig beseer ná bankroof

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie ondersoek ʼn saak van roof en poging tot moord nadat ʼn man tydens ʼn bankroof in Hillcrest, KwaZulu-Natal, geskiet is.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, sê die rooftog het Maandag omstreeks 12:00 by ʼn bank op die hoek van Inanda- en Old Main-weg in Hillcrest plaasgevind. Die polisie het nie die bank se naam bekend gemaak nie.

“Volgens ʼn sekuriteitswag het ʼn voertuig voor die ingang van die bank stilgehou. Twee onbekende mans het uitgeklim en ʼn man wat in ʼn tou by die bank gestaan het, geskiet,” sê Mbele.

“Die verdagtes het daarna met ʼn sak vol geld gevlug.”

Die 25-jarige man wat deur die verdagtes getakel is, is in die regterbobeen gewond.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is na die toneel ontbied en het die man voor die bank op die grond aangetref.

“Hy was ernstig beseer en paramedici het hom op die toneel behandel. Hy is daarna per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling,” sê Meiring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charl ·

Ag wat, net nóg ‘n dag in misdaad voos Suid Afrika, jy kan nie één dag meer sosiale media (nuus) luister óf daarna kyk sonder ‘n berig van moord, roof, korrupsie, verkragting , geweld ens. ens. Niks snaaks óf nuut, dis Afrika.

Anoniem ·

n die been geskiet. Met ‘n sak geld weggekom en die man lê buite die bank. Iets klink nie reg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.