Man ernstig beseer toe been in masjinerie beland

Argieffoto: Netcare 911

ʼn Man is Woensdag ernstig beseer op ʼn plaas in die omgewing van Krugersdorp toe sy been in masjinerie beland het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het in ʼn verklaring gesê paramedici is omstreeks 12:17 na die plaas ontbied waar die man se been in die masjiendele vasgekeer was.

Volgens Herbst het paramedici die pasiënt behandel terwyl reddingsdienste hidrouliese gereedskap ingespan het in ʼn poging om die been te bevry. ʼn Lugambulans is intussen na die toneel ontbied om die pasiënt na ʼn hospitaal te vervoer.

Die man se been kon egter ná ʼn gespook steeds nie bevry word nie. Daar is toe besluit om ʼn traumachirurg van ʼn hospitaal in Johannesburg na die toneel te vlieg, sou dit nodig wees om eindelik die been te amputeer.

Die chirurg kon egter daarin slaag om die bloeding van die been onder beheer te kry sodat reddingsdienste die masjinerie stuk vir stuk kon wegsny totdat die been bevry kon word.

Volgens Herbst is die man op die toneel behandel voordat hy in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gevlieg is vir verdere mediese behandeling.

Dit is nie duidelik hoe die man se been in die masjinerie beland het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandra ·

Dit is te danke aan privaat hospitale en medici. Sou dit nou ‘n staatshospitaal of iets gewees het, sou die storie ‘n ander einde gehad het. Ek hoop en vertrou dat hy spoedig sal herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.