Man ernstig beseer toe betogers hom bestorm

Die dokters het ook bepaal dat Van der Merwe se skedel versplinter het en splinters in sy brein gesteek het (Foto: Verskaf)

’n 36-jarige man van Heidelberg in Gauteng moes ’n vier ure lange operasie ondergaan om bloeding en drukking op die brein te verlig nadat hy deur betogers met klippe bestook is.

Burger van der Merwe was verlede Donderdag onderweg na Steelpoort toe hy ʼn groep betogers in Delmas teëgekom het. Hulle het die pad versper.

Volgens Van der Merwe se skoonsuster, Michelle Botha, het polisie op die toneel vir hom gesê die betogings word gemonitor en dat dit veilig is om verder te ry. Dit is nie seker waaroor die groep betoog het nie.

Toe hy verder ry, het die betogers Van der Merwe se bakkie egter genader en sy voertuig met klippe begin gooi.

“Die betogers het Burger uit die bakkie probeer ruk, maar omdat hy ’n groot, sterk man is, het hulle dit gelukkig nie reggekry nie,” sê Botha.

Van die klippe wat die betogers gegooi het, het Van der Merwe teen die kop getref.

“Burger het kop gehou en die bakkie in trurat gesit. Die feit dat hy nie sy bewussyn verloor het nie, was net God se genade.”

Van der Merwe het na die Sasol-vulstasie ʼn paar meter weg gery. Die bestuurder van die vulstasie het gesien daar skort iets met Van der Merwe en hom gaan help. Hy het ook Van der Merwe se vrou, Jacqueline, geskakel.

Jacqueline, Botha en dié se man, Chris, het na Delmas gejaag.

“Burger het deurmekaar gelyk en begin opgooi. Sy hele hemp was vol bloed en sy een oog potblou en heeltemal toegeswel.”

’n Ambulans is ontbied en Van der Merwe is na die Parkland-hospitaal in Springs geneem. Hier het die dokters vasgestel dat Van der Merwe ’n skedelbreuk, bloeding op die brein en harsingskudding opgedoen het.

Burger van der Merwe moes ’n vier ure lange operasie ondergaan om bloeding en drukking op die brein te verlig (Foto: Verskaf)

Van der Merwe moes ’n noodoperasie ondergaan om die bloeding en drukking op die brein te verlig. Die dokters het ook bepaal dat Van der Merwe se skedel versplinter het en splinters in sy brein gesteek het. ’n Plaat is tydens die operasie in sy kop geplaas.

“Die neuroloog het my sussie [Jacqueline] ingelig dat dit ’n gevaarlike operasie is. Dit was die langste vier ure van ons lewens. Met die Here se genade het die operasie goed afgeloop.”

Van der Merwe is na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas, waar die neuroloog sy toestand noukeurig gemonitor het. Hy is Maandag ontslaan en volgens Botha praat hy nog sleeptong en is hy met tye nog effens deurmekaar.

“Oor die algemeen maak hy baie goeie vordering, wat volgens die dokter ’n absolute wonderwerk is.”

Dit is in egter nog te vroeg om te bepaal of Van der Merwe enige langtermynskade opgedoen het.

‘Wees versigtig’

Van der Merwe is Maandag uit die Parkland-hospitaal in Springs ontslaan (Foto: Verskaf)

Die familie wil nou lede van die publiek waarsku om versigtig te wees wanneer dit by betogings kom.

“Vermy ten alle tye sulke situasies, al is daar polisie op die toneel, want jy kan hulle nie eers vertrou om jou veilig te hou nie.”

Die familie oorweeg om ’n saak by die polisie aanhangig te maak, maar weet nie wie om verantwoordelik te hou nie. “Dit is omdat Burger niemand direk met die voorval kan verbind nie.”

Maroela Media het navraag oor die voorval aan die polisie en die Victor Khanye- plaaslike munisipaliteit gerig, maar geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.