Terwyl Gautengse motoriste Dinsdagmiddag in swaar reën hul pad huis toe moes vind, is ʼn 55-jarige voetganger ernstig beseer toe ʼn groot boom op ʼn sypaadjie in Randburg op hom omgeval het.
Die voorval het omstreeks 17:00 in Malibongwerylaan gebeur.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê by paramedici se aankoms op die toneel was die man steeds onder die boom vasgevang. “ER24 se reddingseenheid het verskeie toerusting gebruik om die man te bevry. Hy is daarna vir veelvuldige frakture en verskeie ander beserings behandel.”
Vermaak sê die man het glo op die sypaadjie gestap toe die boom, vermoedelik weens die swaar reën, gedeeltelik ontwortel en die dik stam gebreek het. Die man is in ʼn ernstige toestand na die Helen Joseph-hospitaal gehaas.