ʼn Man is ernstig beseer toe ʼn boot in die Swartkopsriviermond naby Port Elizabeth omgeslaan het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Saterdag gesê.
“NSRI Port Elizabeth is omstreeks 08:00 ontbied ná berigte deur die Oos-Kaapse nooddienste dat ʼn boot in die Swartkopsriviermond omgeslaan het,” het stasiebevelvoerder Ian Gray in ʼn verklaring gesê.
Die provinsiale nooddienste, Nelson Mandelabaai-brand- en reddingsdiens, Blue Water Bay-sektorpolisie, Blue Water Bay-lewensredders en kusnooddiens het ook reageer.
“ʼn Vyf meter lange rubberboot het tydens die springgety in die golwe omgeslaan,” het Gray gesê. “Daar was drie volwasse mans van Port Elizabeth aan boord.”
Plaaslike branderplankryers kon een van die mans uit die water haal.
Lewensredders van Blue Water Bay het die twee ander mans met ʼn waterponie gered.
“Slegs een van die mans is na ʼn hospitaal geneem. Hy was in ʼn ernstige, maar stabiele toestand,” het Gray bygevoeg. Die man het ʼn rugbesering opgedoen. Die ander twee mans is ongedeerd.
“Die boot het op die westelike deel van die riviermond uitgespoel en Blue Water Bay-sektorpolisie het dit verwyder.”
Gray het die branderplankryers wat een van die mans bygestaan het, en die lewensredders van Blue Water Bay geloof vir hul vinnige reaksie.