Man ernstig beseer toe domkrag ingee

Die vragmotor het na bewering op die man geval nadat die domkrag ingegee het (Foto: ER24 Verskaf)

ʼn Man van Pretoria is Vrydag in ʼn kritieke toestand hospitaal toe gehaas nadat ʼn vragmotor op hom geval en hom byna vergruis het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê na wat verneem word was die man besig om die vragmotor se wiel te ruil toe die domkrag skielik ingegee het.

“Paramedici is Vrydagoggend teen 10:00 na De Villebois Mareuil-weg in Moreleta Park in Pretoria ontbied. Daar het hulle die man in ʼn kritieke toestand op die toneel aangetref en probeer stabiliseer,” sê Herbst.

Die man is daarna per helikopter na ʼn hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

ER24 het later dieselfde dag op nóg ʼn fratsongeluk in Pretoria gereageer.

ʼn Werker is ernstig beseer toe hy Vrydagmiddag deur ʼn vullishouer buitekant ʼn winkelsentrum in die Waterkloof-gebied in Pretoria teen ʼn muur vasgepen is.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê paramedici is teen 15:25 na die toneel ontbied. By hul aankoms op die toneel het hulle die werker (in sy 30’s) op die grond – waar die voorval plaasgevind het – aangetref. Sy medewerkers het by hom gestaan.

“Die man het ernstige bors- en kopbeserings opgedoen. Hy was ook nie volkome by sy bewussyn nie,” sê Campbell.

Nadat paramedici die man op die toneel begin behandel het, is hy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.