Man ernstig beseer toe huis vlam vat

Vier motors is verwoes toe ’n brand Saterdag by ’n huis in Roodepoort uitgebreek het. (Foto: Verskaf)

’n Man het Saterdagmiddag ernstige beserings opgedoen doen toe ’n brand in ’n vierslaapkamerhuis in Florida, Roodepoort, uitgebreek het.

Volgens Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het die kombuis en motorhuis afgebrand. Vier motors is ook deur die vlamme beskadig.

Mulaudzi sê dit lyk asof die brand tydens ʼn sosiale geleentheid uitgebreek het. Hy kon egter nie meer besonderhede verskaf nie. Hy sê benewens die ernstig beseerde man is twee mense ook vir rookinaseming behandel. Dit is nie duidelik hoeveel mense ten tyde van die voorval in die betrokke huis was nie.

Luidens berigte was daar ʼn verjaardagpartytjie by die huis toe ʼn ontploffing plaasgevind en die brand uitgebreek het. Mulaudzi kon dit nie Maandag aan Maroela Media bevestig nie, maar sê dat ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand reeds van stapel gestuur is.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, was die vier motors reeds in ligte laaie toe nooddienswerkers omstreeks 16:15 op die toneel aangekom het.

Brandbestryders was in dié stadium besig om die brand in bedwang te probeer bring.

“Paramedici het die man, vermoedelik in sy 40’s, behandel en gevind dat hy ernstige brandwonde oor die grootste deel van sy liggaam opgedoen het. Hy was in ʼn bedenklike toestand.

“Die man is op die toneel behandel en van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal vir dringende behandeling vervoer is.”

Volgens Meiring is dit onduidelik wat tot die brand aanleiding gegee het.

“Ons moedig alle inwoners aan om geen toestelle wat moontlik tot ʼn brand kan lei sonder toesig te laat terwyl dit in gebruik is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.